Valke Buurtwag se stryd in die bekamping van misdaad betaal dividende
“Baie dankie ook aan die Delmas Polisie, Sundra Bulldogs Buurtwag en al die onderskeie sekuriteitsmaatskappye wat hande vat om hierdie suksesse moontlik te maak.”

AfriForum se Delmas Valke Buurtwag het gedurende Junie in samewerking met die Delmas Polisie, Sundra Bulldogs Buurtwag en ander veiligheidsmaatskappye ’n reuse slag teen misdaad geslaan.
Die buurtwag het onder meer twee veediefstal sake suksesvol afgeweer, waarvan een vir gesteelde hoenders was.
Tydens die ander veediefstalsaak was twee beeste ongelukkig reeds geslag, maar die res kon lewendig teruggevind word.
Daar kon verder een voertuig by die Delmas SAPD se kamp 13 ingeboek word – die voertuig hou glo verband met een van die veediefstal sake.
LEES OOK: Ouma en kleinkind sterf in ongeluk tussen Kinross en Kriel
Ander suksesse het ingesluit die terugvind van gesteelde en gekaapte voertuie, onder meer ’n Toyota Corolla, ’n Hyundai H100 bakkie asook ’n gekaapte Volvo vragmotor.
Ook hier was verskeie suksesvolle inhegtenisnames gemaak. In die saak van die Volvo vragmotor is die verdagte in hegtenis geneem.
Sy klagtes het moord ingesluit nadat ’n veiligheidsbeampte glo dood is tydens die kaping van die vragmotor.
Die Valke Buurtwag se eerstehulp span het laat hoor dat ook hulle ’n besige Junie beleef het waartydens hulle 14 gevalle van effektiewe noodhulp toegedoen het.
LEES OOK: Organisation in eMbalenhle wants shelter for abused people with disabilities
Die ondervoorsitter van die AfriForum Valke Buurtwag, Jaun Herholdt, bedank die Delmas SAPD, noodhulp, proto- en reaksiespanne en Sundra Bulldogs Buurtwag en vir hul positiewe gesindheid en hulp in die bestryding van misdaad in en om Delmas.
Die voorsitter, Carel Botha, het ook sy dank teenoor die buurtwaglede, en in besonder Herholdt en sy span, uitgespreek.
“Baie dankie ook aan die Delmas Polisie, Sundra Bulldogs Buurtwag en al die onderskeie sekuriteitsmaatskappye wat hande vat om hierdie suksesse moontlik te maak.
“Ons waardeer elkeen se positiewe insettte in die bestryding van misdaad in ons omgewing. Saam maak ons ’n verskil,” het Botha gesê.