AfriForum Delmas Valke Buurtwag gekroon as tweede beste in Noordstreek
“Die AfriForum Delmas Valke buurtwag het ’n groot sukses-rekord en en alhoewel Delmas ’n klein plattelandse dorpie is, het die buurtwag verskeie suksesse behaal.”
AfriForum-takke van regoor die land het na die ATKV Klein Kariba oord gereis vir die drie-jaarlikse AfriForum Kongres wat aangebied was die by oord buite Bela-Bela. Die kongres het vanaf 22 tot 25 Augustus geduur.
Tydens die kongres het verskeie sprekers die takke toegespreek en daar is belangrike besluite geneem rakende die pad vorentoe en veral hoe gemeenskappe in die bresse kan tree waar munisipaliteite nie meer hulle pligte kan uitvoer nie.
Vanaf Mpumalanga het die takke van Delmas, Lydenburg, Nelspruit, Secunda, Standerton en Witbank die kongres bygewoon.
Uit Streeknuus se lesersstreek was ook die tak van Bronkhorstspruit teenwoordig. Volgens AfriForum voer sy taklede hul takprojekte en buurtwagaktiwiteite vrywillig uit – dít terwyl heelwat lede ook voltyds werk.
“Hulle help om die organisasie se ‘ons sal self-visie’ uit te bou daar waar munisipaliteite se dienslewering te kort skiet en om gemeenskappe te bemagtig om meer staatsonafhanklik te word.”

Kort voordat die feestelike AfriFees op die aand van 24 Augustus afgeskop het, was buurtwagte beloon vir hul uitstekende en unieke bydraes tot die organisasie. Die wenner in die eerste plek was die Benoni buurtwag in Gauteng.
Een van die Mpumalanga buurtwagte kon met die tweede prys wegstap in die Noordstreek wat spog met vyftig buurtwagte. AfriForum Delmas Valke buurtwag het hierdie eer te beurt geval.
“Dié buurtwag het ’n groot sukses rekord en hoewel Delmas ’n klein plattelandse dorpie is, het die buurtwag verskeie suksesse behaal,” het Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.
Vanaf Januarie 2024 was meer as 60 verdagtes in hegtenis geneem in verskeie sake soos huisinbrake, motorvoertuigkapings en gewapende roof.
“Een van die verdagtes is in hegtenis geneem in ’n bedrogsaak waarin daar na bewering meer as R2.5m gesteel is. Daar is ook 18 gesteelde voertuie teruggevind in hierdie tydperk.”

Volgens Bekker het die buurtwag se toegewyde eerstehulpspan ook op sowat 33 mediese voorvalle gereageer en bystand verleen totdat mediese personeel kon oorneem op die tonele.
“Die buurtwag het ook onlangs ses nuwe protospanlede opgelei om te help om die buurtwag se paraatheidsvlakke verder te verhoog,” het Bekker ook gesê.
“Dankie vir die uitsonderlike en toegewyde diens aan ons gemeenskap soos gelewer deur ons proto-, reaksie-, sowel as eerstehulpspanne wat dié spesiale eer vir ons tak moontlik gemaak het,” het Carel Botha, voorsitter van die buurtwag op Delmas, gesê.
Botha bedank verder AfriForum vir uitstekende opleidingsmoontlikhede wat die tak se lede in staat stel om vinnige, veilige en doeltreffende diens in die gemeenskap te lewer.
“Opregte dank ook aan Hennie Bekker, vir sy volgehoue ondersteuning en bystand aan ons tak.”
LEES OOK: GMM sees property tax stalemate
LEES OOK: Louis van der Walt neem wenfoto van die maand



