Local newsNewsStreeknuus

Delmas Herleef hou puik 2024 makietie

Dit was weer tyd vir Delmas Herleef se groot makietie en die een van 2024 op 26 Oktober by Hoërskool Delmas, was groter en beter.

Dit was ’n jaar gelede toe die span van Delmas Herleef, sy borge en vrywilligers daartoe bygedra het dat Delmas as kykNET se Dorp van die Jaar vir 2023 aangewys is.

Dit was weer tyd vir Delmas Herleef se groot makietie en die een van 2024 op 26 Oktober by Hoërskool Delmas was groter en beter.

Die voorsitter van Delmas Herleef, doktor Martin van Rensburg, het die dag se verrigtinge amptelik met skriflesing en gebed geopen.

Hy het elkeen bedank vir dit wat hulle reeds vir Delmas gedoen het, maar het ook elkeen aangemoedig om met die goeie werk aan te hou om sodoende, met wat tot hul beskikking is, ’n verskil te maak.

“As elkeen ’n klein bietjie doen en bydra, kan ons saam ’n verskil maak, nie net op Delmas nie, maar ook in Suid-Afrika.”

Van Rensburg het ook die span van Delmas Herleef, die borge en die Victor Khanye Munisipaliteit (VKLM) bedank vir hul positiewe insette.

Volgende aan die woord, was die uitvoerende burgemeester van VKLM, Vusi Buda. Buda het elkeen wat die makietie bywoon en ondersteun verwelkom en bedank.

Hy het ook vir Delmas Herleef bedank vir hul aangehoue insette om van Delmas ’n beter plek vir elkeen te maak.

“Dankie aan die Delmas Herleef span; met die wen van 2023 se Dorp van die Jaar-kompetisie het julle ons dorp op die landskaart geplaas.


Al die opwinding is byna te veel vir dié Suikerbekkie.

“Ons streef daarna om ’n belegger-vriendelike dorp te wees en deur die ondersteuning van groepe soos Delmas Herleef en Delmas First het hierdie droom begin om realiteit te word,” het Buda gesê.

Hy het verder ook sy beste wense uitgespreek vir die matriekklas van 2024 vir die eindeksamen.

“Ek wil ook vir die inwoners van VKLM die versekering gee dat ons baie hard werk aan die watervoorsiening krisis op Delmas,” het Buda bygevoeg.

Hierna was dit tyd vir makietiefees en met kosstalletjies te kies en te keur, ’n wye verskeidenheid uitstallers, ’n massiewe pretpark vir jonk en oud, kameelritte, worsrol-eet kompetisie, armdrukkompetisies, plaaslike skole se pom-pom extravanganza, dansskole se dansopvoerings, die Dinosourusse kan nie lees nie opvoering en vele meer.



Daar was behoorlik iets vir ’n ieder en elk se smaak. Een van die groot hoogtepunte was die kunstenaars wat feesgangers vermaak het.

Op die verhoog was Franja du Plessis, Dodo Nyoka, Brendan Peyper en om die makietie se feesvieringe tot ’n hoogtepunt te dryf, het ook Spoegwolf hul verskyning gemaak.

Madel Fourie, bestuurslid van Delmas Herleef, het elkeen bedank wat agter die skerms gewerk het aan die 2024 makietie.

Fourie het by uitsondering vir Christelle Parrot en haar makietie span, Johan de Lange en Liz-Mari du Plessis bedank.

“Hulle beplanning en organsisasie het eintlik al ’n jaar gelede, kort na die 2023 makietie begin.”

Fourie het voorts vir Ria van der Hoff en Trudi Mare bedank vir die opstel, versiering en organisasie van die BBP-tent.

“Dit was pragtig en ek glo elkeen van ons baie belangrike persone (BBPs) het die tent, sy atmosfeer en verversings waardeer en geniet”.

Van Rensburg het na afloop van die makietie ook weer eens vir die makietie span asook Madel Fourie bedank vir hul positiewe insette.

“Ek salueer julle – dankie vir julle bydrae om van Delmas ’n beter plek te maak,” het hy gesê.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button