Delmas VLU beleef Belgiese soettand lekkerte
“Daarná moes die vingers weer skoon kom en hoe dan nou anders, ons moes dit aflek.”
Die VLU Delmas-tak het hul jaarlikse uitstappie gebruik om ’n Belgiese sjokolade werksklas by te woon.
Die vroue het op 15 Oktober by die sjokolateur, Hannes Snyman, se fabriek in Pretoria gaan kuier.
Snyman, ’n apteker van beroep, verstaan chemiese prosesse, nie net met medisyne nie, maar ook wanneer dit by die proses van fynproewer sjokolade kom.
As bewys van sy tweede beroep, spog hy met sertifikate verwerf aan die hand van Belgiese sjokolade meesters.
Tydens die Delmas vroue se kuier was Lily Jacobs, Snyman se skoonsuster, hul gasvrou.
“Sy bestuur die fabriek se produksie en bestellings en bied ook werksklasse aan soos dié een wat ons vroue gedoen het. Daar word selfs vir kinders werkswinkels aangebied,” het Magriet Swart, skakelbemapte van die Delmas VLU vertel.
Volgens Magriet was daar vir hulle verduidelik dat die kuns van sjokolademaak daarin lê dat dit getemper moet word om dit in die regte kristalvorm te kry en sodoende die sjokolade tot die regte temperatuur te bring voordat dit in vorms gegiet word.
Magriet het voorts vertel dat daar van truffels, praliens en selfs ’n sagte ganache vervaardig word.
“Op die produksielys is daar sowat 40 geure, selfs ’n eg Suid-Afrikaanse biltong geur.”
Vir die taklede was die klasse in twee opgedeel omdat die plek slegs agt mense kan akkomodeer.
Lily se helper, Isaac Manamela, ook ’n volwaardige sjokolateur, het byderhand gestaan en met Lily aan die woord, het Isaac met praktiese demonstrasies die vroue deur die prosesse geneem.
Van sjokolade marmermunte, sjokolade boekrolle versier met fyn gegote skoenlappers tot warm sjokolade drankies het met behulp van Lily en Isaac onder se Delmas se taklede tot stand gekom.
Magriet het vertel van die higiëne en baie skoon vingers waarmee die sjokolade-vormpies gesmeer moes word.
“Daarna moes die vingers weer skoon kom en hoe dan nou anders, ons moes dit aflek. Na afloop van hierdie, letterlik heerlike en leersame aanbieding, was ons handewerk netjies in kartonhouers verpak.”
Die vroue het hierna ’n nabygeleë winkelsentrum besoek, rondgestap, die winkels beloer en iets te ete geniet.
Belangstellendes word genooi om by die VLU Delmas-tak aan te sluit. Vir navrae kan die voorsitter, Marie Terblanche, by 083 968 2203 gekontak word.
“Kom word deel van ’n gesellige en positiwe atmosfeer waarin vriendinne nuwe lede met ope arms verwelkom,” het Magriet afgesluit.