AfriForum Buurtwag herstel slaggate en maak Secunda skoon
Organisasie gee terug aan gemeenskap op Secunda.
Die AfriForum Buurtwagspan het in Oktober in die gebied agter Marietjie Skool en Highveld Christian College begin skoonmaak.
Hulle het die gras gesny en tuinvullis in dié gebied opgeruim en weggery.
Jan du Plessis, voorsitter van die AfriForum Teks-tak, het gesê die gebied wat hulle opgeruim het, bestaan uit 5 150m² en die gronde by Davieshof is ook opgeruim en netjies gemaak.
Dié buurtwagspan van AfriForum, het vanjaar al 93 000m² skoongemaak.
Hulle het ook slaggate in die dorp herstel en lede van die Teks-tak bestuur het hand bygesit om te verseker dat die span die nodige opleiding ontvang om die gate reg te herstel.
Daar is meer as 500m² slaggate herstel en hulle het meer as 980 sakkies teer daarvoor gebruik. Hulle het op Bergrivier-, Janson-, Mckay-, Renosterberg-, Sammy Marks-, Stow- en Tugelastrate gefokus.
Die gate se basis is oopgegrawe en deeglik herstel voordat ’n nuwe laag teer gegooi is. Die gate is ook geseël om te verseker dat die padoppervlak nie weer verval wanneer dit reën nie.
“As dit nie vir die buurtwagspan was nie, het Secunda al in totale verval vergaan. Inwoners se veiligheid word drasties deur dié projekte verbeter,” het Du Plessis gesê.
ALSO READ: Secunda fietsryers wen Suid-Afrikaanse kampioenskap
ALSO READ: Evander police scoop awards at this year police regional excellence awards