Jaar snel tot einde by Delmas Rolbalklub
Die gewilde jaarlikse Presidentsbeker sal op 16 Desember plaasvind.
Vanjaar is vinnig op pad om uit te loop, maar vir die Delmas Rolbalklub is dit nog nie die einde nie. Daar gaan nog twee EKB ligawedstryde tuis aangebied word.
Wedstryde wat voorlê is die vierde afdeling mansliga wat op 23 November sal plaasvind sowel as die tweede afdeling vroue-wedstryd wat op 30 November ook tuis gespeel sal word.
Die klub beplan verder om hul lede wat gedurende 2024 presteer het op 16 Desember tydens ’n spesiale geleentheid te vereer.
Die gewilde jaarlikse Presidentsbeker sal op 16 Desember plaasvind.
Die klub het op 13 Oktober ’n opedag op tuisbodem aangebied waar klubs van Delville Germiston, Heidelberg, Boksburg, The Lake Club, Northmead, Jeppe Quondam, Belgravia, Atlas, Springs Town en die Benoni Country Club op Delmas se tuisperk te sien was.
Volgens die klub se president, Hanri Ehlers, was daar vanjaar ook van Delmas lede na die Ekurhuleni distriksproewe genooi.
“Dit opsigself is ’n reuse prestasie, nie net vir ons lede, nie maar ook vir die klub. Dit is harde werk en die ure se spel op die perk word raakgesien.
“Hierdie lede woon ook gereeld EKB Akademie-oefensessies by waar jou spel deurlopend evalueer word,” het Ehlers gesê.
Erns Botha, Barney Lategan, Nicolene Visser, Christelle Boshoff en Hanri Ehlers was genooi na die Colts en Fillies oefengroep en vandaar na die amptelike distriksproewe.
Ehlers was ook ingesluit in die oefengroep vir die 2025 Gauteng Challenge wat op 18 en 19 Januarie in Pretoria sal plaasvind.
Die Nigel Rolbalklub het op 19 Oktober hulle jaarlikse opedag gehou en hiertydens het Delmas klublede Suzette en Barry Botes en Hennie en Christelle Terblanche ’n algehele derde plek behaal.
LEES OOK: Standerton’s community stands together
LEES OOK: Secunda fietsryers wen Suid-Afrikaanse kampioenskap