Skenkers gee hoop tydens Nesher se familieloop
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se mobiele eenheid was op 9 November op Eloff by die skool se gronde beskikbaar.
Besoekers het nie net Nesher Privaatskool in hul familieloop ondersteun nie, maar ook gebruikgemaak van die geleentheid om bloed te skenk.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se mobiele eenheid was op 9 November op Eloff by die skool se gronde beskikbaar.
Ten spyte van die koue en reënerige weer het skenkers mildelik bygedra om die bloedbank se voorraad aan te vul.
Skenkers was in die gemak van Nesher se skoolsaal gehuisves en vriendelike SANBD personeel het gereed gestaan om voornemende skenkers vining en effektief te help.
Skenkers was ook elkeen beloon met ’n geskenk, ’n vrugtesap en soetding nadat hulle bloed geskenk het.

Die SANBD is ’n nie-winsgewende organisasie wat bloed vir oortapping berg en beskikbaarstel wanneer dit in mediese noodgevalle benodig word.
Volgens die SANBD is bloedskenk ’n veilige proses en kan binne sowat 30 minute afgehandel word. Alle bloedgroepe word benodig, maar die O-bloedgroep is universeel en kan vir alle bloedgroepe gebruik word.
Voornemende skenkers moet volgens die SANBD tussen 16- en 65 jaar oud wees, meer as 50kg weeg, ’n lae risiko seksuele lewe lei en moes die persoon ook op die betrokke geëet het.
Vir meer inligting oor hoe om ’n bloedskenker te word, kan die SANBD se webtuiste by www.sanbs.org.za besoek word.




