Skoolhoof van Secunda praat oor aanval
Danie Heese ondersteun ‘16 Days of Activism for No Violence Against Women and Children campaign’
Danie Heese, hoof van Laerskool Kruinpark, kan eerstehands getuig oor hoe dit voel om ’n slagoffer van geweld te wees.
Met die wêreldwye veldtog, 16 Days of Activism for No Violence Against Women and Children wat op 25 November afgeskop het en vandag op dag nege staan, het die Ridge Times met Famsa hande geneem om bewusmaking te skep.
Heese was sowat drie maande terug in Port Elizabeth vir ’n simposium vir hoofde toe hy twee keer met ’n mes gesteek was. Hy glo die Here het hom beskerm dat hy vandag nog leef.
“Ek en my jarelange kollega van TP Stratten Primary School, Mossie Ourique en ons ontvangsdames het die aand by ’n restaurant gaan eet en die vroue wou toe teruggaan hotel toe,” het Heese vertel.
“Hoewel dit baie naby aan die restaurant was, het ek aangebied om saam met hulle terug te stap vir veiligheid. Toe ek alleen teruggeloop het van die hotel na die restaurant, het twee mans my van agter gegryp. Ek het terugbaklei en toe steek hulle my met ’n mes in my been en in my sy.
“Toe het ek teruggestaan en hulle het my selfoon, baadjie, horlosie en trouring gesteel.”
Heese het in ’n bebloede toestand na die restaurant teruggestrompel waar Ourique vir hom gewag het en hulle is dadelik hospitaal toe.
By die hospitaal moes Heese dadelik ’n noodoperasie ondergaan want sy kolon was raakgesteek. Terug by die huis op Secunda het dit beter gegaan met hom, maar hy het steeds nie 100% homself gevoel nie.
Hy is dokter toe waarna hy nog ’n noodoperasie moes ondergaan omdat daar ’n abses gevorm het. Hy is nou terug by die skool, maar steeds op die herstelpad.
“Dit was vir my ’n baie traumatiese gebeurtenis en ek het vir berading gegaan,” het Heese gesê.
Hy het 18kg verloor sedert hy aangeval is en skerts dat dit nie ’n lekker dieët is om gewig te verloor nie. Die veldtog lê hom na aan die hart omdat hy in die sewe jaar wat hy al by Kruinpark is, kan sien hoe die probleem van geweld in gesinne daagliks toeneem.
“In die tydperk my hier was daar al ’n paar gesinsmoorde. Ons sien al hoe meer verwaarlosing onder die kinders en dan weet ons nie eers altyd van die gevalle wat agter die skerms plaasvind nie.”

Heese het ook opgemerk dat die leerders meer geweldadig in die skool raak as vroeërjare en hy glo dit is omdat dit in hulle ouerhuise rof gaan.
“As daar geweld in hul huise is, dan spoel dit ook oor na boelie-gedrag.”
Heese glo by die skool is ondewysers en personeel in ’n unieke posisie om kinders op te voed. Hy glo die oplossing om geweld te verhoed voordat dit gebeur, lê by opvoeding.
“Ons leer die kinders respek vir jou medemens hier by die skool. Ons praat baie oor geweld en kweek bewusmaking by die kinders. Binne ’n gemeenskap is dit ons wat vir die kinders waardes moet leer en ons werk nou saam met organisasies soos Famsa omdat ons sien dat geweld en mishandeling ’n groter probleem raak onder ons kinders.”
Heese meen die gemeenskap moet terugkeer na hul waardestelsel en dit in plek kry. Sy boodskap van hoop aan ander oorlewendes van geweld, misdaad en mishandeling is om terug te gaan na waar hul wortels lê, na hulle geloof toe.
“Dié gebeurtenis het ’n groot invloed op my geloof gehad en ’n goeie ondersteuningsnetwerk is belangrik in dié tyd.”
Hy het oorlewendes aangemoedig om nie in vrees te leef of in ’n depressie te verval as so iets gebeur nie, maar om op hul vriende en familie te steun vir hulp.
“’n Mens kom agter hoe afhanklik jy van die Here is en ook dat die lewe te kort is om vir mekaar kwaad te wees en dat mens ander mense in jou lewe nodig het,” het Heese afgesluit.
ALSO CHECK: Day 8 of 16 Days of Activism for Gender Based Violence
ALSO CHECK: Residents want Govan Mbeki Municipality to remove asbestos roofs



