Toekenning aan Govan Mbeki Munisipaliteit vir waterbesparing is ‘n klug, sê AfriForum
Betha- inwoners sit al langer as 120 dae sonder water.
AfriForum meen ’n toekenning vir waterbesparing wat Rand Water op 22 November aan Govan Mbeki Munisipaliteit gegee het, is ’n reuse flater.
“Hiér is dan nie eers water om te bespaar nie,” het Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.
AfriForum was die afgelope jaar ten nouste by die ondersteuning van die Bethal gemeenskap betrokke, as dit gekom het by ’n tekort aan water.
Krane op Bethal loop weekliks leeg en sommige inwoners sit al vir langer as 120 dae sonder water. Dié inwoners is nou genoop om water aan te koop of by die gemeenskapsnoodwaterpunte te gaan haal.
Bekker het gesê vir Maart, Augustus, September, Oktober en Novemer, het Bethal inwoners reeds 1.8 miljoen liter water by AfriForum se noodwaterpunt getap. Selfs bejaardes en gesinne met kinders moes in skottels bad en drinkwater ten duurste aankoop.
“Die munisipaliteit se sogenaamde veldtog om water te bespaar dryf inwoners om praktyke toe te pas om water spaarsamig te gebruik,” het Bekker gesê.
“Die realiteit is egter dat die inwoners nie dié praktyke kan toepas nie, want hulle ontvang geen water van die munisipaliteit nie.”
Bekker meen daar is ’n duidelike wanpersepsie oor die realiteit op grondvlak en die droomwêreld waarin staatsamptenare leef.
Verskeie skole moes infrastrukture soos watertenks oprig en oorweeg om boorgate te sink, anders sou die skole noodgedwonge moes sluit.
Volgens Bekker het boere in die gemeenskap telkemale tot skole se redding gekom en duisende liters water gratis na die skoolterrein aangery. Tehuise moes ook dié tipe beleggings aangaan in ’n tyd wat daar nie geld vir sulke luukshede is nie.
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality’s council meeting called off
Bekker het verder gesê daar word daagliks videos versprei deur personeel van Govan Mbeki Munisipaliteit wat wys dat daar nie water na die opgaardamme gepomp word nie.
“Die oorsaak hiervan is steeds onduidelik met Rand Water wat die skuld op inwoners se hoë waterverbruik pak, hoewel die waterverbruik oor Rand Water se hele netwerk, insluitend in Gauteng, hoog is. Ongeag wat die oorsaak mag wees, word inwoners van dié basiese mensereg ontneem.”
Intussentyd is inwoners se munisipale rekeninge nie minder nie, wat ‘n mens sou verwag dit moet wees as daar geen water vanaf Govan Mbeki Munisipaliteit ontvang word nie.
Bekker het inwoners aangemoedig om AfriForum se petisie te ondersteun. Dit is om druk op die munisipaliteit toe te pas in die stryd teen die munisipaliteit se swak watervoorsiening. Besoek die webwerf https://www.artikels.afriforum.co.za/dry-tap-award/ om jou stem te laat hoor.
LEES OOK: DA says Rand Water is throttling supply to Govan Mbeki Municipality, but mayor denies it
Die Ridge Times het Govan Munisipaliteit skakelbeampte, Donald Green, vir kommentaar genader en gevra hoe dit moontlik is dat inwoners se munisipale rekeninge nie minder is nie omdat hulle geen munisipale water kry nie.
Green kon nie dié vraag antwoord nie en het ’n video van die burgermeester, Nhlakanipho Zuma, aangestuur. In dié video, het Zuma gesê, daar is talle betogings oor die watertekort en dat die munisipaliteit huidiglik ’n groot uitdaging in die gesig staar.
“Daar is ’n groot watertekort weens die droogte in sekere dele van die land,” het Zuma in die video gesê.
“Rand Water word ook deur dié probleem geraak en hulle pomp nou water teen vol kapasiteit na gebiede waar daar ’n hoë aanvraag vir water is.”