Delmas VLU-tak sluit 2024 af met herverkiesing
Tydens die verkiesing was Marié Terblanche eenparig as voorsitter herverkies.
Die jaar 2024 het soos die wind verby gegaan en op 19 November het die Vroue Landbou Unie-tak van Delmas aan die einde van hul jaar se formele aktiwiteite gekom.
Tydens die tak se laaste vergadering is die takbestuur herkies, maar nie voordat Marié Terblanche vir die lede uit 2025 se dagboek – ’n Reisjoernaal – voorgelees het nie. Dié dagboek is saamgestel deur Magda du Toit van Sensako.
“As ons God as ons toergids het gedurende ons lewensreis, sal dié reis die moeite werd wees,” het Terblanché die voorlesing afgesluit.
Jané Oosterhuis het die verjaarsdag-vroue geluk gewens en benadruk hoe spesiaal elkeen is wat op ’n sekere dag en datum gebore is.
“Daar is ’n spesiale seën op elkeen se lewens – net soos hulle bestem was om ’n verskil te maak deur net te wees wie God beplan het hul moes wees,” het Oosterhuis gesê.
Terblanche het die gasvroue, Jané Oosterhuis, haar dogter, Mariné Pretorius, asook haar suster, Margaret Bezuidenhout, bedank.
Die eetgoed was soos altyd, verrassend anders en die gasvroue het nie teleurgestel met mini quiche en ’n individuele slaai vir elkeen.
“Om dié bederf af te sluit was die allerheerlikste peppermint crisp-pannekoekstapel voorgesit,” het Magriet Swart, die skakelbeampte, vertel.
September se notule was tussendeur gesirkuleer en goedgekeur en die berig oor die sjokolateur wat in Streeknuus van 1 November verskyn het, was bespreek.
“Tydens die vergadering was daar ook spesiale dank aan Streeknuus-joernalis, Thia Botha, wat getrou na Delmas se VLU-tak se nuus omsien,” het Swart bygevoeg.
Finansiële verslag was deur Belinda Duvenage gelewer en was positief ontvang. ’n VLU en SAVF-fondinsameling ten bate van Ons Eie Ouetehuis was ook bespreek.
Oosterhuis het verder ook verslag gedoen oor die bewusmaking rondom nie-winsgewende organsisasies in Delmas.
Hierdie organisasies is hoofsaaklik van donasies afhanklik om lewensnoodsaaklike dienste te lewer en dit is hoog op die tak se agenda vir 2025.
Terblanche het die res van die Streeks- en provinsiale sake afgehandel.
Daarna was dit tyd vir Marie Jordaan om as kiesbeampte voort te gaan met die verkiesing van die bestuur. Protokol en die proses van die herverkiesing was verdudelik.
LEES OOK: 8 parkrunners set new personal best times in Standerton
Tydens die verkiesing was Marié Terblanche eenparig as voorsitter herverkies. Ansie van Zyl is as vise-voorsitster verkies, terwyl die res van die bestuur deur Terblanche aangewys was.
Die tak het die Hervormde Kerk op Delmas en die predikant, doktor Martin van Rensburg, bedank vir die gebruik van die saal vir hul maandelikse vergaderings en aktiwiteite.
Marie Jordaan het die vergadering met ’n gebed afgesluit en en na ’n koppie koffie het vriendinne verdaag.
Delmas VLU-tak nooi alle vroue om deel van die spesiale band van hartsvriendinne te word in 2025. Vir meer inligting kan Marié Terblanche by 083 968 2203 geskakel word.