’n Nuwe blomseisoen breek vir die Kosmos Dienssentrum aan
Die lede stem saam dat deursigtigheid, goeie kommunikasie, beplanning en skouer aan die wiel sit, die begin van ’n nuwe blomtydperk vir Kosmos en sy inwoners is.
Die Kosmos Dienssentrum vir senior burgers op Sundra slaan ’n nuwe blaadjie om nadat die beheerraad herverkies is en lede voortaan die welstand van die inwoners ter harte neem.
Die nuwe raad bestaan uit dominee Adriaan Benadie van die NG Familiekerk op Sundra as voorsitter, dominee Elmien Snyman van die Hervormde Kerk op Sundra as adjunk-voorsitter, pastoor Johan van Rensburg van die AGS Kerk op Sundra as sekretaris en die pligte van tesourier sal voortaan deur Adri Joubert behartig word.
Addisionele lede wat op die raad dien, is adjudant-offisier Welma Kirby, Angelique Bester en Angelique Benadie.
Mari Victor van Tutela sal die maatskaplike sy van Kosmos hanteer.
Die Kosmos Dienssentrum was die afgelope paar maande op baie mense se lippe nadat verskeie klagtes van beweerde wanpraktyke binne die mure van die sentrum aan die lig gekom het.
Die nuwe bestuur sien nou positief na die toekoms uit. Van die veranderinge op die horison is dat dié beheerraad verantwoordelikheid neem vir dit wat binne die mure van Kosmos gebeur.
“Dit sluit die finansies, die inwoners se welstand en ook maatskaplike sake in,” het Van Rensburg laat hoor.
Die raad beplan ook om maandeliks vergadering te hou en wil weer die gemeenskap betrokke maak by die doen en late van Kosmos.
“Ons hoop om ’n minimale jaarlikse lidmaatskapfooi te hef om sodoende verskeie aktiwiteite vir die inwoners moontlik te maak. Die beplanning rondom die lys van aktiwiteite is nog in die beginstadium, maar ons glo dat dit met tyd sal groei,” het Van Rensburg ook gesê.
Angelique Benadie sal ook op Maandag, Woensdag en Vrydag vanaf 09:00 tot 12:00 by Kosmos beskikbaar wees waar die publiek hierdie lidmaatskapvorms kan bekom of skenkings kan aflewer.
“Ons het skenkings op hierdie stadium broodnodig, in watter vorm ook al.”
Kos is hoog op die priotriteitslys, maar daar moet ook broodnodige instandhouding op die perseel gedoen word en mense met die nodige vaardighede of materiaal sal baie waardeer word.
Van Rensburg het ook, namens die raad, die versekering gegee dat alle skenkings voortaan regmatig onder die inwoners verdeel sal word en dat daar deeglik boek van gehou sal word.
“Ons senior inwoners het soms ook maatskaplike dienste nodig en vir daardie rede is deel van die beplanning ook om op ’n meer gereelde basis van maatskaplike dienste gebruik te gemaak.”
Die lede stem saam dat deursigtigheid, goeie kommunikasie, beplanning en skouer aan die wiel sit, die begin van ’n nuwe blomtydperk vir Kosmos en sy inwoners is.
“Ons sien met groot opgewondenheid en positiwiteit uit na die toekoms van Kosmsos,” het Benadie gesê.
“Die tafel van die verlede is skoongevee en van hier af slaan ons ’n nuwe blaadjie oop; met die welstand, gevoel van geborgenheid en geluk van ons senior inwoners as prioriteit,” het hy afgesluit.
Vir skenkings skakel Angelique by 073 273 4434 en vir finansiële bydraes kan Adri Joubert by 083 299 4023 gekontak word.