AfriForum maak sy stem dik oor Eskom se buitensporige kragtarief in Mpumalanga
Volgens AfriForum het hulle daarop gewys dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om pa te staan vir die jarelange wanbestuur van Eskom nie.
Volgens die burgerregte organisasie, AfriForum, het hulle oor die hele land deelgeneem aan die openbare raadplegingsproses oor Eskom se voorgestelde kragtarief verhoging van 36,15%.
Formele kommentaar en teenstand teen die buitensporige tariefverhoging was op 27 November, tydens die Mpumalanga se sessie in Mbombela, voorgelê.
Dit volg nadat Eskom het sy voorgestelde tariefverhoging vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê het.
Die publiek het tot 5 Desember kans gehad om kommentaar daarop te lewer. Volgens AfriForum het hulle daarop gewys dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om pa te staan vir die jarelange wanbestuur van Eskom nie.
AfriForum se voorlegging het die ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge van Eskom se voorgestelde tariefverhoging onderstreep en beklemtoon hoe die beplande kostes kwesbare gemeenskappe, veral lae inkomste-huishoudings, wat reeds ’n groot deel van hul inkomste aan elektrisiteit bestee, buitensporig sal belas.
Boonop is stygende elektrisiteitskoste die dryfveer van koste-inflasie, wat die prys van noodsaaklikhede verhoog en armoede en ongelykheid vererger.
“Die inwoners van Mpumalanga kan nie die verantwoordelikheid dra om die situasie by Eskom te probeer beredder ná die growwe wanbestuur by die kragvoorsiener oor die jare nie.
“Daarom is AfriForum daartoe verbind om verbruikers se stemme te laat hoor oor die voorgestelde kragtariefverhoging,” het Arlo van Heerden, AfriForum distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Laeveld, gesê.
AfriForum bestuurder van plaaslike regeringsake, Morné Mostert, het ook tydens die openbare raadplegingsessie in Gauteng op 4 Desember sy kommer uitgespreek oor Eskom se ondoeltreffendheid en ernstige bestuursmislukkings.
“Nersa moenie net strenger nakoming van regulatoriese raamwerke afdwing nie, maar moet self ook omsigtigheidstoetse by Eskom doen, wat sal verseker dat wettige uitgawes slegs by die tariefberekeninge ingesluit word.”
Volgens AfriForum sal hulle verder die uitkoms van die openbare raadplegingsproses noukeurig dophou en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.



