Hulp gevra om die feesseisoen spesiaal te maak vir die Delmas Animal Shelter
“Kerstyd is tradisioneel die besigste tyd van die jaar met baie dierewesies wat op ons drumpel beland”.
Die nie-winsgewende organisasie, Delmas Animal Shelter (DAS), het die hulp van die publiek nodig om die feestyd vir elkeen van hul diere inwoners spesiaal te maak.
Ma- en dogterspan, Jolandie en Jorinda Verwey is bekend vir die stryd wat hul daagliks stry om as ‘n nie-doomaak-instansie, vir die talle diere in hul sorg te voorsien.
“Behalwe vir standaard maandelikse uitgawes soos vervoer, salarisse, skoonmaakmiddels, elektrisiteit, veeartsrekeninge en huur, moet ons ook die diere in ons sorg na die beste van ons vermoë versorg,” het Jolandie laat hoor.
Honde- en katkos, nat en droog, bale voer vir ons plaasdiere, houtpalette, komberse en selfs speelgoed vir ons honde en katte is baie welkom.
“Kerstyd is tradisioneel die besigste tyd van die jaar met baie wesies wat op ons drumpel beland. Vir die agt werkers van DAS is daar natuurtlik ook nie werklik rustyd die feestyd nie en hulle kan nie die tyd saam met hul gesinne bestee nie.
“Ons wil graag ook die Kersfees vir hulle spesiaal maak en sal daarom ook enige skenkings ten opsigte van ons getroue werkers waardeer.”
DAS bied ook die opsie om een van die diere in hul sorg teen R250 per maand te borg. Kontantskenkings is baie welkom en kan in die volgende rekening inbetaal word:
Delmas Animal Shelter
FNB tjekrekening nommer: 62766608255
Takkode: 27-02-44
“Ons grootste wens en begeerte is dat ons diere deur liefdevolle gesinne aangeneem sal word.”
Vir aannemingsopsies kan 076 808 6684 geskakel word, indien nie antwoord nie, stuur ’n WhatsApp. Die DAS span wens ook hul getroue ondersteuners en borge ’n geseënde Kersfees en voorspoed vir 2025 toe.
“Sonder ons DAS engele sou ons nie kon voortgaan om vir die talle diere in ons sorg ’n tuiste en hoop te gee nie.”




