Sundra Bulldogs sluit 2024 op gesellige noot af
“As buurdorpe is ons daar om mekaar te ondersteun en saam te werk,”
Die Sundra Bulldogs Buurtwag het op 7 Desember hul jaareindfunksie in die saal van Laerskool Sundra gehou.
Met sowat 200 gaste was die atmosfeer vrolike samesyn. Derek Bester, die voorsitter van die Bulldogs, het die verrigtinge geopen deur almal te verwelkom.
Daarna was dit tyd om erkenning te gee aan elkeen wat ’n spesiale bydrae tot die sukses van die buurtwag maak.
Bester het Laerskool Sundra bedank vir die gebruik van die saal en die versiering daarvan asook diegene wat die kos en nagereg voorberei het.
Adjudant offisier Welma Kirby van die Sundra polisie, asook die voorsitter van AfriForum Delmas se Valke Buurtwag, Carel Botha, Valke reaksielede, Paul van der Merwe en Gino Sansovini, was as spesiale gaste verwelkom.
“Carel het ’n paar jong manne onder sy vlerk geneem en ons werk byna daagliks saam om misdaad te bekamp, dankie ook aan die Valke se reaksiemanne vir goeie samewerking en groot suksesse.
“As buurdorpe is ons daar om mekaar te ondersteun en saam te werk,” het Bester benadruk.
Hy het ook besonderse dank aan die hommeltuig spanne gebring asook die Bulldogs reaksiespan wat altyd en op kort kennisgewing beskikbaar is vir reaksie.
“Baie dankie aan ons spanlede wat gereeld patrollie ry.”
Bester het verder ook die span van SnipR geloof en besighede, boere en individue bedank wat die kamera’s borg.
Die volgende dankie aan die beurt was sy mediese span wat altyd daar is om die gemeenskap in tye van nood te help en by te staan.
Op sy lys van bedankings was ook die persone wat saans hul tweerigting radio’s beantwoord en die inroepe saans hanteer.
Hy het elkeen wat deel is van die Bulldogs familie geloof vir hul bydrae tot die sukses en die groei van die buurtwag.
Cheryl van den Berg, ’n staatmaker, is bedank vir haar harde werk en getroue bystand in die kontrolekamer. Ook Helmien Williamson het spesiale woorde van dank vanaf die Bulldogs leier ontvang.
Bester het ook sy vrou, Angelique, bedank vir haar hulp, geduld en bystand.
Bulldogs lid en Bester se regterhand, Rudolph Venter, het Bester bedank vir sy leiding van die Bulldogs asook vir Angelique wat hom so getrou bystaan.
Hierna was ’n tafelgebed gedoen en kon die gaste weglê aan die heerlike ete en nagereg. Musiek het die saal gevul en die Bulldogs lede, jonk en oud, het die dansbaan betree en heerlik saam gekuier.







