Opwindende jaar wag vir Delmas Rolbalklub
Delmas Rolbalklub sien ook weer met groot opgewondenheid uit na die klub se besigheidsliga wat reeds teen die einde van Februarie afskop.
Die jaar het skaars begin, maar vir die Delmas Rolbalklub is die kalender reeds met propvol van positiewe beplanning, wedstryde en het groot dinge in die vooruitsig.
Die Perfect Delivery, die Ekurhuleni Bowls (EKB) Saterdag liga begin weer op 25 Januarie. Van Delmas se spelers is ook gekies om die Ekurhuleni distrik in die Gauteng Challenge op 18 en 19 Januarie te verteenwoordig.
Delmas sal deur Minné Visser, Deonette Venter en Henko du Toit in die o15-afdeling verteenwoordig word. Lana Visser, Reuben van der Westhuizen en Henré Kok sal in die o18-afdeling meeding.
Die president van die Delmas Rolbalklub, Hanri Ehlers, sal as spankaptein in die Vroue Ope B-span rol. Volgens Ehlers is die die Gauteng Challenge voorbereiding vir die komende BSA (Bowls South Africa) Inter Distrikte kompetisie en Junior Nasionale Kampioenskap wat in Maart plaasvind.
“Gauteng bestaan uit vyf distrikte wat gaan meeding om dié gesogte titel,” het Ehlers gesê.
LEES OOK: Families of the murdered eMbalenhle men wants justice
“Dié distrikte bestaan uit EKB, Johannesburg Bowling Association (JBA), Bowls Gauteng North (BGN), Sedibeng Bowls (SED) en Sables Bowling Association (SBA).”
Barney Lategan, Donovan Greyling, Chris van Rensburg en Michael Snyman is gekies om as beginners aan die 48ste Towers Novice kompetisie in Johannesburg deel te neem.
Die Delmas Rolbalklub sien ook weer met groot opgewondenheid en afwagting uit na die klub se gewilde besigheidsliga wat oor drie weke plaasvind en op 18 Februarie afskop.
Volgens Ehlers stroom inskrywings in en besigehede wat belangstel om in te skryf kan ’n WhatsApp na 063 779 4864 stuur.
Die jaar 2024 was gedurende Desember afgesluit met die klub se Presidentsbeker en hier het Michael Snyman as die wenner weggestap met Hanri Ehlers as naaswenner.
“Delmas Rolbalklub sien uit na die 2025 rolbalseisoen. Ons nooi graag ons dorp se inwoners om die klub te ondersteun en rolbal te speel,” het Ehlers afgesluit.



