VF Plus veg vir bejaardes in Govan Mbeki Munisipaliteit
Pensioentrekkers word nou kwytgeskeld van eiendomsbelasting.
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ’n mosie ingedien by Govan Mbeki Munisipaliteit en versoek dat sekere pensioentrekkers as behoeftiges geklassifiseer kan word sodat hulle kortings op hul munisipale rekeninge kan kry.
Aranda Nel-Buitendag, VF Plus-raadslid het gesê pensioentrekkers in die Govan Mbeki munisipale gebied, wat Secunda, Bethal, Charl Cilliers, eMbalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Trichardt en eMzinoni insluit, sal voortaan van munisipale eiendomsbelasting kwytgeskeld word.
Dié reeling geld reeds vir behoeftige pensioenarisse in ander dorpe. Volgens Nel-Buitendag, is daar sekere kriteria wat geld om as ’n behoeftige beskou te word.
Dié kriteria sluit onder andere in om ’n maandelikse inkomste van R20 000 of minder te verdien.
LEES OOK: DCS jobs are not for sale
“Die doel van dié voorstel was om bejaarde burgers se basiese behoeftes te steun, finansiële laste te verlig, waardigheid te bevorder en hul lewenskwaliteit te verbeter,” het Nel-Buitendag gesê.
Verder stel die VF Plus voor dat bejaarde inwoners met munisipale skuld, gelyk behandel moet word onder die huidige deernisbeleid met skuldafskrywings wat op ’n billike en nie-diskriminerende grondslag vir eiendomseienaars 60 jaar en ouer oorweeg word.
“Ten spyte daarvan dat die ANC die mosie verwerp het, het dit geslaag nadat die DA sy steun gebied het. Die uitslag van die stemming was 32 vir en 27 teen,” het Nel-Buitendag gesê.



