Local newsNewsStreeknuus

Kommandowurmplaag dreig in Bronkhorstspruit-omgewing

Faan Roets, die veiligheidsvoorsittter van TLU-Bronkhorstspruit, vra dat enige lid van die publiek of boere wat hierdie wurm of mot gewaar hom dadelik moet kontak.

Die gevreesde kommandowurm (Spordotera exempta), word tans hard in die Bronkhorstspruit-omgewing beveg. 

Dié derduisende kriewelende swart en geel gedoentes word beskryf as ’n erge plaag vir beide weiding en gewasse.

Volgens Faan Roets, die veiligheidsvoorsittter van TLU-Bronkhorstspruit en self ’n inwoner van die omgewing, is die gebied waarin die wurm opgemerk is, reeds baie wyd en kommerwekkend.

Roets het gesê die wurms is tans nog baie klein en was daar teen druktyd nog geen skade aan soja- of mielieoeste aangemeld nie.

“Daar waar hy egter in die grasveld inval, vreet hy alles binne ’n baie kort tydperk op,” het Roets gesê.

“Omdat die wurms in ons omgewing nog baie klein is, vreet dit sagte weiding. Dit is nie kieskeurig nie en vreet aangeplante- sowel as natuurlike weiveld.

“Ons moet egter keer dat die wurms nie volwassenheid bereik en dan na harder gewasse soos mielies en soja beweeg nie; ons boere gaan dan die risiko loop om totale oeste te verloor.”

Dit is juis daarom uiters belangrik dat elke boer bedag moet wees vir tekens van die wurms en pro-aktief moet wees.

“Ons versprei die waarskuwings en inligting so ver en wyd as moontlik en boere staan saam om gif te spuit, self op hul bure se plase en plotte.”

Roets het verder gemaan dat daar nie net sommer van enige gif gebruik gemaak moet word nie.

“Van die gifstowwe is gevaarlik en kan verdere skade aan die omgewing, insekte en ander lewe veroorsaak.”


Spordotera exempta, beter bekend as die kommandowurm. Foto: Wikipedia

Roets beveel aan dat boere hul gifverteenwoordigers en kenners op die gebied kontak vir inligting en aanbevelings.

“Ons, as boere, se hoofdoel moet nou wees om aan die voorpunt van die wurm te bly. Ons moet die verspreiding daarvan keer. Ons is ook reeds in kontak met boere in die Arbor- en ander omgewings; inligting word versprei sodat die boere bedag kan wees.”

Op ’n vraag aan Roets oor hoe die aanhoudende reën die toediening van gif beïnvloed, het hy geantwoord: “Met die val van baie ligte reën is dit eintlik voordelig, want die gif word dan vinniger versprei en opgeneem.

“Met harde reën soos wat tans die geval is, is dit egter ’n mors van geld en tyd, want dit spoel af en weg.”

Roets het verder genoem dat die boere van die omgewing baie behulpsaam is en daar waar gehelp kan word met trekkers, gifspuite en selfs gif, word dit gedoen.

“Sommige grasvelde is ongelukkig tans ook te nat om met ’n trekker binne te gaan en dit bemoeilik die spuitwerk.

“Die ideaal sou wees om nou van hommeltuie gebruik te maak, dit is meer effektief en dek groter gebiede in ’n baie korter tyd, maar weer eens steek die reën daarvoor ’n stokkie.”

Roets het gevra dat enige lid van die publiek of boere wat hierdie wurm of mot gewaar hom dadelik moet kontak.

Volgens Roets sou daar op 19 Februarie om 10:00 ’n vegadering met ’n span entomoloë, kenners en TLU-Bronkhorstspruit plaasvind waarna die gebied dan ook besoek sal word.

“Ek deel graag inligting en raad en as jy as boer dalk nie oor ’n gifverteenwoordiger beskik nie, kan ek bystaan met aanbevelings.”

Roets kan op 082 454 0085 geskakel word.




LEES OOK: Police find bag with ammunition and explosive devices in Vaalbank

LEES OOK: Lekwa, Govan Mbeki municipal area face abduction, forced initiation problem

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button