Kankerlyertjie van Delmas word bederf met haar eie hare
“Ons weet nie wanneer sy baie siek gaan word nie, maar nou vir solank as wat sy haar ouself is lewe ons voluit en wil graag soveel as moontlik saam met haar doen as gesin en familie.”
Talitha Berg (5) van Delmas, wat ’n stryd teen ’n seldsame kanker stry, het ’n nuwe bos hare ryker geword.
As die jongste lid van ’n gesin van sewe, was Talitha twee jaar en vier maande oud toe sy op 14 Desember 2021 met ‘germ cell tumor’ (Yolk sac kanker) gediagnoseer is.
Die gesin se hoop het gekom en gegaan, want behandeling was suksesvol en Talitha kon by twee geleenthede die klok by die hospitaal lui omdat sy kankervry was.
Tog het die kankertelling van tyd tot tyd weer opgetel en het die gesin die stryd in geloof voortgesit. Chemoterapie en operasies was daar baie en die gesin het geglo die stemsel oorplanting wat op hande was, die dapper kleinding sou gesond maak.

Pa Albert en ma Tanja het egter op 30 Januarie ’n gesprek met Talitha se dokters gehad – die nuus was hartseer.
“Medies kan daar niks meer vir Talitha gedoen word nie. Haar kanker kan nie meer behandel word nie. Dokter Buchner gaan ons nou help op die pad wat voorlê. Talitha se liggaam sal ons nou wys wat sy nodig het om alles so gemaklik moontlik vir haar te maak.
“Ons is verseker dat ons alle steun sal ontvang wat sy nodig het en dat ons nie alleen die volgende pad gaan stap nie,” lees Tanja se Facebook inskrywing.
“Die Here se wil sal geskied en by dit vind ons rus en vrede. Ons leef nou elke dag voluit saam met Talitha. Ons weet nie wanneer sy baie siek gaan word nie, maar nou vir solank as wat sy haar ou self is, lewe ons voluit en wil graag soveel as moontlik saam met haar doen, as gesin en familie.”
“Aan God kom alle eer toe vir Sy ongelooflike vrede en hoe Hy ons omvou met Sy liefde.”
Talitha het haar hare verloor weens die chemo. Die droom om weer haar eie hare te hê was verwesenlik toe Belinda Austin met Kansa gereël het vir Talitha se pruik.
Nog ’n droom was haar eie pophuis en danksy ’n skenking vanaf Lori van Cupcakes 4 Kids with Cancer, kan Talitha nou heerlik baljaar met haar nuwe gemeubileerde pophuis en splinternuwe Barbie en Ken. Die Berg gesin bedank elkeen wat hulle as gesin bystaan in hierdie uitdagende tyd.
“Daar is soveel geskenke, soveel bederf en te veel om persoonlik te bedank; weet ons waardeer elke daad van liefde en bystand.”
Tydens die gesprek met Talitha se dokters het een van die dokters die volgende gesê: “Elke kind wat kanker oorwin is nie die werk van die dokters nie, maar is die wil van die Here.
“En so moet ons ook besef dat elke kind wat nie gesond word nie, ook die Here se wil is. En dit besef ons.”
LEES OOK: VF Plus veg vir bejaardes in Govan Mbeki Munisipaliteit
LEES OOK: Thorisong Primary in eMbalenhle celebrates World Read Aloud Day




