Local newsNews

Bethaller wen Vonk se Droomdag-kompetisie

Deel van Rhona van Niekerk se prys is onder andere die opname en vervaardiging van ’n enkelsnit, ’n musiekvideo en verspreiding na digitale platforms.

Rhona van Niekerk (32) se grootste droom as sanger het waar geword toe haar eerste enkelsnit Leef jou Rede op 31 Januarie op verskeie digitale platforms vrygestel is.

Die woorde van dié lied is ’n weerspieëling van haar eie lewe en die groei wat in verskeie seisoene van haar lewe plaasgevind het.

“Ek het besef ek hou myself terug deur negatiewe gedagtes en besluit ek gaan opstaan en verantwoordelikheid vat vir my drome,” het Van Niekerk vertel.

Sy het haar kontakte in die musiekbedryf genader en gehoor daar is die Droomdag 4-kompetisie, aangebied deur Vonk Musiek.

Deelnemers moes hul eie weergawe van die lied Middernag van William Wolf sing en opneem en ’n video stuur.

“Ek het gedink ek gaan net ’n kans waag; as die deure moet oopgaan vir my in daardie rigting, dan sal dit en as dit nie moet oopgaan nie, dan sal dit nie,” het Van Niekerk gesê.

Sy het in die middel van verlede jaar gehoor sy is as een van die top agt in dié kompetisie gekies.

Sy moes ’n besigheidsplan vir haar sangloopbaan indien en toe Van Niekerk hoor sy is onder die top drie, het sy besef sy is met haar hele hart in dié kompetisie en wil graag wen.

Van Niekerk het dié kompetisie gewen en deel van die prys is onder andere die opname en vervaardiging van ’n enkelsnit, ’n musiekvideo en verspreiding na digitale platforms.

Sy het self die lirieke vir haar enkelsnit geskryf en gesê dié lied is gebore vanuit ’n tyd waar sy deur ’n moeilike seisoene gegaan het en op ’n dag besluit het sy moet verantwoordelikheid vat vir wat sy graag wil hê.

Spesifiek die deel ‘Staan Op’, kom vanaf ’n tyd toe sy deur ’n moeilike seisoen gegaan het en besluit het om keuses te maak om ’n stappie in die regte rigting te neem en nie vas te hou aan negatiwiteit nie.


LEES OOK: Emergency services respond to two separate accidents on the N17 and in Secunda


Sy wil, met haar musiek en in die besonder haar eerste enkelsnit, mense aanmoedig om hul rede waarvoor hulle geskep is, te vind en uit te leef.

“Dalk is dit om ’n goeie ouer vir jou kind te wees of dalk is dit om die beste by jou werk te wees, maak nie saak wat dit is nie, vind dit en leef dit voluit.”

Van Niekerk het haar graad in musiek aan die Universiteit van Pretoria behaal en het na haar studies haarself op Bethal, haar grootword dorp, gaan vestig.

Sy het by Laerskool HM Swart skoolgehou en later dié skool vir Curro Secunda verruil. Sy het in ’n huis grootgeword waar die hele familie musikaal is en daar gereeld huiskonserte gehou is.

Van Niekerk is dankbaar vir die Bethal gemeenskap wat haar al die jare ondersteun het as dit by haar musiek gekom het.


LEES OOK: Security personnel nab three for tampering with infrastructure at mine in Bethal area


Nog een van haar groot drome is in Januarie 2022 verwesenlik toe sy haar eie musiekskool, RTistik Music Studio, oopgemaak het.

Sy en haar ma, Linda van der Merwe, bedryf saam dié musiekskool en bied klavier-, blokfluit-, ukulele- en sanglesse aan.
Van Niekerk glo daaraan om nie te wag vir geleenthede om in ’n mens se skoot te val nie, maar om dit te skep.

Sy skryf reeds aan haar volgende lied, wat sy aan die bekende motivering spreker en grapjas, Lynette Beer, wil voorlê en bekendstel by ’n geleentheid op Secunda later vanjaar.

Sy is getroud met Nean en hulle seuntjie, Eloff, is een en ’n half.

Volg Rhona van Niekerk op sosiale media en luister haar enkelsnit by https://www.youtube.com/watch?v=5MQlbHGVyxs.
Vir meer inligting stuur ’n e-pos na bookings.rhonavanniekerk@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button