Local newsNews

Michelle neem leisels oor by VLU se aandtak op Secunda

Belangstellendes is welkom om die Skemerkelkie VLU aandtak se volgende vergadering op 3 Maart by te woon.

Michelle van Wyk (37) is in Januarie as die nuwe voorsitter van die VLU se Skemerkelkie-aandtak verkies.

Michelle wou al in 2011, net nadat sy na Secunda verhuis het, by die VLU betrokke raak, maar dit was moeilik omdat sy toe voltyds as chemiese ingenieur gewerk het en daar toe nie ’n aandtak was nie.

Sy het op Pietermaritzburg grootgeword en na haar matriekjaar na Pretoria verhuis waar sy haar graad in ingenieurswese voltooi het.

Sy het in 2020, toe haar eerste dogtertjie gebore is, besluit om haar werk by Sasol te verruil om eerder ’n tuisbly-mamma te wees. Sy en haar man, Marius van Wyk, het nou al twee woelwaters.

Michelle het in 2023 uiteindelik by die VLU se aandtak, Skemerkelkie, wat in dieselfde jaar gestig is, aangesluit toe iemand in haar selgroep haar genooi het.

“Ek het gedink dit is ’n goeie geleentheid om ’n breuk te neem terwyl my man na die kinders kyk en sal my goed doen om vir twee ure een maal maandeliks uit die huis te kom,” het Michelle gesê.

Sy het nog altyd daarvan gehou om te brei en by haar ma, Magda Burger geleer hoe om te brei. Sedert sy by die VLU aangesluit het, het sy geleer hekel ook.

Sy het wel die fynere kunsies van brei ook nou aangeleer en geniet die maandelikse kompetisies by die VLU.

“Die VLU is ’n lekker plek om jou aptyt nat te maak om nuwe dinge te leer en dan jou kennis met mede-lede te deel.”

Michelle meen sy is in die diep kant ingegooi toe sy as voorsitter gekies is.

“Dit is nie iets waarvoor ek uit my eie of natuurlik sou skiet nie.”

Sy geniet dit egter om te leer hoe die VLU werk en om al die fynere besonderhede van dié organisasie te ontdek.


LEES OOK: Heidi se oupa’s en ouma’s kuier


Haar visie vir die Skemerkelkie-aandtak is om dié tak te sien groei en nuwe lede by te kry. Dié tak is juis gestig sodat werkende vroue ook kan deel hê van die VLU en die vergaderings een aand maandeliks kan bywoon.

In haar vrye tyd doen Michelle graag houtwerk en sy hou daarvan om te bak en nuwe resepte uit te probeer. As klein dogtertjie het sy altyd in die motorhuis gesit terwyl haar oorlede pa, Robert Burger, houtwerk gedoen het.

“Hy het vir ons ons eie hamer en spykers gegee om mee te speel,” het Michelle vertel.

Sy het al ’n paar boekrakke gemaak wat in haar huis staan asook ’n gemakstoel en voetstoeltjies.

Belangstellendes is welkom om die Skemerkelkie VLU-tak se volgende vergadering wat op 13 Maart om 18:00 plaasvind, by te woon. ’n Wynkenner gaan die lede toespreek oor watter wynsoorte saam met watter kossoorte bedien kan word.

Vir meer inligting, skakel Michelle by 073 247 6822.



LEES OOK: Mpumalanga Premier shines spotlight on fight against GBVF

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button