Delmas Herleef hou eerste leer-mekaar-ken straatbraai
“Delmas Herleef bestaan uit ’n handjievol vrywilligers wat vergaderings bywoon en ook opknappings- en instanhoudingsprojekte beplan en doen; ons wil graag die werksmag en sisteem uitbrei.”
Rondom die braaivleisvure in Quartsietstraat, het Delmas Herleef Wyk 1 op 22 Februarie gesellig gekuier. Delmas Herleef is sinoniem op Delmas as die groep vrywilligers wat agter Kwêla se 2023 Dorp van die Jaar toekenning gesit het.
Hul pligte het egter nie daar gestop nie, maar hul stoom steeds voort in Delmas.
Die begraafplaas word onderhou, slaggate herstel, sy- paadjies se rante geverf, parke in stand gehou, vuilgoed opgetel en vele meer.
Die groep vrywilligers het onlangs besluit dat Delmas in sekere wyke opgedeel moes word om wyksleiers die kans te gee om die res van die gemeenskap van Delmas by projekte betrokke te kry.

Die wyksleier van Uitbreiding 1, Louise Breytenbach met behulp van haar man Andries, het die eerste leer-mekaar-ken straatbraai gereël.
Teenwoordig was ook Madel Fourie en doktor Martin van Rensburg en hul gades, Kobus en Hannetjie.
Met die reuk van ‘n braai-vleisvuur in die lug, het Breytenbach almal verwelkom en aangemoedig om by Delmas Herleef betrokke te raak. Hierna was Van Rensburg aan die woord.
“Delmas Herleef bestaan uit ‘n handjievol vrywilligers wat vergaderings bywoon en ook opknappings- en instanhoudingsprojekte beplan en doen; ons wil graag die werksmag en sstelsel uitbrei,” het hy gesê.

“Ons hoop wyksleiers kan die boodskap oordra dat inwoners net voor sy eie woning in stand hoef te hou. Deur net dit te doen, kan ons dorp reeds beter lyk.
“Maak daardie slaggat reg of dra ‘n paar rand by en Delmas Herleef se slaggat span sal dit vir jou kom regmaak.
“Ons doel is steeds om mense na Delmas toe te laat trek en nie te laat wegvlug nie. Dit is belangrik vir ons dorp se voortbestaan en die groei van ons ekonomie dat mense ‘n verskil in Delmas sal raaksien.
“Ons moet net aanhou doen wat Delmas Herleef doen en in die proses moet ons ook ons dorp positief ‘praat’,” het Van Rensburg ook gesê.
“Moenie net kommentaar lewer nie, raak positief betrokke.”
Van Rensburg het bygevoeg daar is goeie samewerking tussen die munisipaliteit en Delmas First en dat daar op daardie verhoudinge voortgebou moet word.
Ook AfriForum Delmas Valke Buurtwag was bedank vir die positiewe bydrae wat hulle lewer om in samewerking met die polisie na die inwoners se veiligheid om te sien.
Van Rensburg het Breytenbach bedank vir haar positiewe bydrae en goeie kommunikasie binne haar wyke.
Madel Fourie het ook vir Breytenbach bedank vir die reëlings vir die eerste straatbraai.
LEES OOK: Rosa is aan stuur van sake by VLU se Secunda-tak
“Louise het die afskop gedoen en ons glo die ander wyksleiers binnekort sal volg en dat positiewe dinge daaruit sal ontstaan.”
Die voorsitter van die buurtwag, Carel Botha, het vir Fourie, Van Rensburg en die res van die Delmas Herleef-span bedank vir hul omgee vir Delmas en sy mense.
“Dankie aan die lede van Delmas Herleef vir wat hulle in ‘n kort tydjie bereik het; veral aan Madel vir haar passsie, tyd en moeite. Dankie ook aan haar man Kobus vir sy begrip en ondersteuning.”
Ná die formaliteite was die kole gereed en kon die inwoners van wyke 1en 3 saam met die ander gaste gesellig kuier.






