Jong vrou van Secunda wil brood bak vir behoeftiges
Gemeenskap is welkom om projek te ondersteun.
Die ‘Pay what you Can – Freshly Baked Bread’ inisiatief is uit swaarkry gebore.
Chelandri Steenkamp (28) en haar man het verlede jaar op ’n stadium nie genoeg geld gehad om hul huur te betaal of kos te koop nie en het net ’n klein bietjie vleis in hul yskas gehad nadat hulle vanaf Witbank na Secunda verhuis het.
Dit is toe dat Chelandri besluit het om ’n brood te bak met die bestanddele wat sy in haar huis gehad het.
“My ouma het altyd gebak met ’n handjievol van dit en ’n koppie vol van dat en ’n drukkie vol van hierdie en so aan,” het Chelandri vertel.
“Ek het toe gedink, maar ek kan dit mos ook doen. Ek het toe die brood gebak en dit was so lekker dat ek en my man alles opgeëet het.”
Dit is toe dat Chelandri besef het daar is baie mense wat werk het, maar net-net deurkom met hul salarisse en dan in die middel van die maand nie meer geld vir kos oorhet nie.
LEES OOK: Govan Mbeki mayor reshuffles mayoral committee
Sy wil met haar nuutste projek spesifiek op dié mense fokus en brode bak wat hulle by haar kan oplaai en betaal wat hulle het en kan bekostig.
“As een persoon ’n brood vir R10 kom koop en die volgende persoon wat my ondersteun betaal R50 vir sy brood, kan ek nog vier brode bak om ander te help.”
Chelandri is nie net tuis in die kombuis nie, sy het ook vele ander talente. Sy het op Secunda grootgeword en na haar matriekjaar in ’n skryfbehoefte winkel gewerk en besef sy hou van verkope en is goed daarin.
Sy is ook goed met grafiese ontwerp, digitale koördinering, webwerf ontwerp en sy maak sketse met koffie wat sy verkoop.
“Daar is min dinge wat ek nog nie probeer doen het nie; noem dit en ek het dit al probeer of dit is op my lysie om nog te probeer.”
LEES OOK: WATCH: Secunda man and daughter reunite after 52 years
Sy het vir ’n rukkie by ’n onderneming wat rekenaars regmaak, webwerwe ontwerp en sosiale media doen, gewerk, maar later haar eie onderneming begin wat ander ondernemings se sosiale media hanteer.
Sy het onlangs begin om gedigte te skryf en kan klawerbord speel en sing ook. Chelandri wil graag meer bak met haar projek en onder andere ook begin om kolwyntjies vir behoeftige kinders se verjaarsdae te maak.
“Die projek groei stadig, maar dit is goed. Ek wil fokus op die doel van die projek, wat is om te gee, en nie net om te groei nie,” het sy gesê.
Haar droom is eendag om ’n ‘pay as you can’ stalletjie, sonder mense oop te maak, waar mense wat dit nodig het, sonder om geoordeel te word, gaan vat wat hulle nodig het en betaal wat hulle kan.
As Chelandri nie brode of ander heerlike lekkernye bak nie, of aan haar sosiale media onderneming werk nie, werk sy deeltyds by ‘Clayjars Books and Gifts’ by die Kruik Kerk.
Sy verwelkom enige voorstelle en idees van die gemeenskap oor haar projek en belangstellendes wat haar wil ondersteun of broodjis of ander gebak wil bestel, kan haar skakel by 071 798 0607.



