Local newsNews

Aktivis van Secunda wil veg vir diere se regte

Hy is 'n oud-polisieman en sal altyd ’n hart hê vir polisielede.

Marius van Reeuwyk (56) is al vanaf sy kinderjare lief vir diere. Dit kom van sy grootwordjare op ’n plaas naby Winteron in KwaZulu-Natal.

Hy wou na skool eintlik vir ’n graad in regte gaan studeer, maar sy pa het gesê hy moet eerder eers sy diensplig in die weermag gaan doen en dan by die polisie aansluit.

Van Reeuwyk was vir 21 jaar in die polisie in verskillende afdelings van die K9 Honde-eenheid in die Vrystaat en KwaZulu-Natal tot die veediefstaleenheid in Greytown en een van die gespesialiseerde eenhede in Durban.

In dié tyd is Van Reeuwyk nege keer raakgeskiet in vyf verskillende voorvalle. Hy is al in sy hand, rug, sy en bene gewond.

Tydens een van dié skietvoorvalle toe ’n bank in Durban in 1995 beroof is, was Van Reeuwyk vir twee weke in die hospitaal en hy het vandag steeds ’n koeël in sy knie.

“As ek gaan vir ’n operasie om dit te laat uithaal, gaan my been styf wees en dan sal ek nie meer kan bestuur nie,” het Van Reeuwyk gesê.

Tydens dié voorval is sy getroue polisiehond voor sy oë doodgeskiet. Dit het vir Van Reeuwyk natuurlik gekom om met honde te werk omdat hulle altyd baie honde op die plaas gehad het en hy gereeld met skaaphonde gewerk het.

Hy het in 2010, na 20 jaar in die polisie waarvan 15 jaar in die honde-eenheid, die polisie verruil vir Afghanistan. Van Reeuwyk het vir twee jaar in Afghanistan gewoon en met Malanois-honde gewerk wat spesifiek springstof uitgeruik het.

Een van dié honde, Gunter, was so aggresief dat niemand hom kon hanteer nie, maar Van Reeuwyk het aangedring dat hy wou probeer om met dié hond te werk.

“Gunter was in die hondehok en ek het gereeld daar verbygeloop en hy het naderhand aan my begin gewoond raak,” het Van Reeuwyk vertel.

“Hulle het vir my gesê hy kan nie meer werk nie want hy ly aan trauma (PTSD), maar ek het ook aan PTSD gely en gereken ek sal met dié hond kan werk want ons sal mekaar verstaan.”


Marius van Reeuwyk, SAAWIA inspekteur vir diere welwillendheid, met een van sy Jack Russell honde, Bella.

Gunter wou almal byt, maar hy het nooit probeer om vir Van Reeuwyk te byt nie.

“Die ander mense kon dit nie verstaan nie en het gevra hoe ek dit reggekry het.”

Van Reeuwyk het vir die res van sy kontrak in Afghanistan met Gunter gewerk. Terug in Suid-Afrika het hy by die anti-stropingeenheid aangesluit en daar gewerk vir twee jaar voordat hy bedank het en sy eie onderneming as ’n privaatspeurder begin het.

Van Reeuwyk het egter baie gesukkel met mense wat nie betaal het nie. Toe die nie-winsgewende diere welwillendheidorganiseasie, South African Animal Welfare Inspectorate Association (SAAWIA), hom ’n werk as inspekteur aanbied, het hy nie gehuiwer om dit te aanvaar nie.

Hy het ’n inspekteurkursus gedoen en het die gesag om diere wat mishandel of verwaarloos word by mense weg te neem deur die regte prosesse te volg en dan, as dit nodig is, kriminele sake teen hulle oop te maak.


LEES OOK: Secunda danser verskyn in Armand Joubert se nuutste musiekvideo


Dit is egter ’n moeilike bedryf omdat Van Reeuwyk net betaal word as daar genoeg borge en skenkings vir die maand ingekom het. Van Reeuwyk het ’n groep op Facebook waar hy ander polisiemanne wat sukkel met trauma help.

“Dit is ’n netwerk waar ons mekaar kan bemoedig en kan luister na mekaar.”

Van Reeuwyk het al gereeld polisiemanne wat wou selfmoord pleeg uit dit gepraat en berading gegee. Hy het gesê die polisie is sy passie en hy sal altyd ’n hart hê vir polisiemanne.

As Van Reeuwyk nie werk aan die welwillendheid van diere of iemand bemoedig nie, geniet hy dit om kos te maak. Hy het ’n sjefkursus gedoen en al twee keer sy eie restaurant gehad – een in Clarens en een in Gansbaai.

Hy geniet dit ook om binnenhuis versiering te doen en het al ’n kursus in dié rigting ook gedoen.

As jy betrokke wil raak by die welstand van diere en SAAWIA wil ondersteun, skakel Van Reeuwyk by 067 858 9719 of stuur ’n e-pos na marius @saawia.co.za of besoek hul blad op Facebook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button