Eugene Viljoen van Standerton vertel hoe om gehalte wyn uit te ken
“Soos van Gogh se skilderye diepte inhou en elke element op sy eie kan staan; so word goeie wyn gemeet. ’n Mens kan die verskillende dieptes en elemente elkeen apart ruik.”

Van heerlike wit wyn na geurige rooiwyn, Eugene Viljoen verstaan die verwikkeldheid van goeie wyn en het ’n paar geheime met die Standerton Advertiser gedeel.
Dié sommelier is ’n lewenslange Standertonner, maar het sy liefde vir wyn op ’n wynroete by Hermanus ontdek. Hy was aanvanklik in Hermanus vir ’n onderhoud by Warwicks sjefskool.
Viljoen wou op ’n jong ouderdom in die gasvryheidsbedryf ingaan en het nog altyd ’n natuurlike talent vir kosmaak.
Op die wynroete het Viljoen besef dat goeie wyn ’n ete kan maak of breek.
“Ek het ná dié belewenis aangesluit by die Suid-Afrikaanse Wynkursus en het geleer hoe om wyn te identifiseer,” het Viljoen verduidelik.
Hy vertel goeie wyn kan gemeet word aan talle aspekte, insluitend kleur, reuk, byvoegsels en natuurlik smaak. Wyn kan ook gemeet word aan die helderheid daarvan. Dowwe wyn kan soms ’n aanduiding wees dat daar meer kalk in die wyn se inhoud is.
“Ons is algemeen op soek na ’n meer skoon, helder wyn om goeie gehalte aan te dui,” het Viljoen gesê.
Soms maak wingerde die keuse om dooie gis binne die wyn te hou om ’n ekstra element by die smaak en tekstuur te voeg.
Meer gesofistikeerde wyne gee verskillende reuke af. Viljoen vergelyk ’n goeie wyn met die unieke kunswerke van klassieke kunstenaars soos Van Gogh.
“Soos van Gogh se skilderye diepte inhou en elke element op sy eie kan staan; so word goeie wyn gemeet. ’n Mens kan die verskillende dieptes en elemente elkeen apart ruik,” het Viljoen vertel.
Wynmakers wil met hulle wyne diepte skep.
Die beste manier om dié diepte te sien, is om ’n glas wyn in die lig te hou teen ’n hoek, en te kyk hoe naby die wyn aan die rand van die glas verskyn. Volgens Viljoen kan ’n goeie wyn se ouderdom gemeet word deur te kyk na die verskillende kleurskakerings in die glas.
Sekere gedeeltes van die wyn sal ryk rooi kleure hê, terwyl ander ligter skakerings toon. Rooiwyn onder die ouderdom van drie jaar word as ’n jong wyn beskou. Witwyn liefhebbers hoef nie te kommer oor die ouderdom van hul gunsteling wyn nie, omdat witwyn jonk gedrink moet word.

“Rosé is algemeen ’n mengsel van wit- en rooiwyn en het ’n ligter blootstelling aan die druiwe se skil,” verduidelik Viljoen.
Hy het voorts verduidelik geen wynmaker mag suiker by hul produkte voeg nie. Die totale suiker inhoud van die wyn word verkry uit die druiwe – hoe meer ryp die druiwe is, hoe soeter is die eindproduk.
Hy het verduidelik dat in die geval van die Noble Late Harvest wyn, word druiwe aan die stam gehou vir so lank as moontlik sodat dit ‘noble rot’ optel.
“Sekere wyntoetsers se smaak is só ingestel dat hulle kan proe wanneer daar nie noble rot in die wyn is nie. Die wyn kan nie klassifiseer as Noble Late Harvest, as daar nie noble rot in die wyn is nie,” het hy gesê.
Viljoen sal aanraai dat wynliefhebbers gereeld in vrugte markte rondloop om hul reuk te verskerp en leer hoe om nuwe reuke te identifiseer.
“’n Goeie wyn het verskillende vlakke van reuk. ’n Mens kan enige iets optel – van die vrugte tot die hout van die vaat waarin dit gelê het. Daardie reuke word deurgetrek na die smaak van die wyn,” verduidelik Viljoen.
Wyn se smaak word ook bepaal deur faktore soos die wind, reën en hitte.
“Elke verandering in die elemente kan in die wyn geproe word.”