Local newsNewsStreeknuus

Grote Griet(jie), dis ‘n reus van ‘n pampoen

Vanjaar se wenner is Cornelis Bester met sy pampoen, Grietjie, wat ’n gewig van 445 kg gehad het.

Die Goliat van Gat Pampoenfees, aangebied deur die Cullinan Boere-unie geaffilieer by TLU SA, het op 15 Maart weer indrukwekkende bieliepampoene opgelewer.

Vanjaar se wenner is Cornelis Bester met sy pampoen, Grietjie, wat ’n gewig van 445 kg gehad het. Grietjie is vernoem na Bester se ma, Magriet.

In die tweede plek het Lee-Ann van Zyl geëindig met haar pampoen van 360kg, terwyl Jacky Smal en haar pampoen van 185 kg die derde plek behaal het.

Hoewel ‘n pampoen van oor die 400kg glad nie te versmaai is nie, behou die reuse Lizbeth van Wykus Lamprecht wat in 2023 die skaal op 890kg getrek het, steeds die rekord vir die grootste pampoen ooit op die fees.

“Die wispelturige weer, met erge hitte en droogte een oomblik en dan weer baie reen, het veroorsaak dat ons nie vanjaar weer sulke kneuwels soos Lizbeth gesien het nie,” het die organiseerder, Henri Combink verduidelik.

“Heelwat van die pampoene gevrot of die rante oopgebars het.”

Volgens Combrink, het Lamprecht vanjaar ook ‘n skorsie (squash) van die 671kg ingeweeg. Dit klassifiseer egter nie in die pampoen-afdeling nie.

Nietemin was die fees ’n gesellige dag vol lekker eetgoed, iets te drinke en hope pret vir almal wat die groot pampoene kom bewonder het.

Die pampoengeregkompetisie was ook ’n sukses, met Ritha Combrink wat as wenner uit die stryd getree het met haar heerlike pampoensopgereg.


Wykus Lamprecht en sy bielie van ‘n botterskorsie. Foto: Henri Combrink

Die eerste vyf wenners van die pampoengeregkompetisie het elk ’n kookklasprys by Steyns Culinary School in Hatfield, Pretoria, gewen.

Die pampoendra-kompetisie het gesorg vir ’n paar swaar oomblikke toe deelnemers hulle bes gedoen het om die groot pampoene rond te dra, en die pitspoegkompetisie het die spoeg laat spat!

Die dag is afgesluit met die oorhandiging van pryse aan die wenners. Pampoen is hierna aan verskeie welsynsorganisasies geskenk.

“Ons bedanki graag ons borge wat dit moontlik gemaak het om die Pampoenfees aan te bied,” het Combrink gesê.

“Die Goliat van Gat Pampoenfees het weer eens gewys waarom dit so ’n gewilde gebeurtenis op die kalender is.”



LEES OOK: Hawks arrest senior employee in Tutuka Power Station fraud case

LEES OOK: Department of Human Settlements discusses title deeds in Standerton

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button