Local newsNews

Skoenmaker van Secunda hou haar by haar lees

Vrou begin uiteindelik doen wat sy nog altyd wou.

Mariska van Dyk (35) het nog altyd ‘n sagteplek vir ‘n mooi skoen gehad. Dié liefde deel sy nou met ander deur haar handgemaakte skoene. Sy het in September 2023 begin om skoene en handsakke te maak.

Van Dyk het eers verskeie kursusse in Gauteng en aanlyn gedoen om te leer hoe om skoene te maak en later ook handsakke.
Sy het haar onderneming Elkelente na haar ma wat in 2014 dood is, vernoem.

“Elkelente is my ma, Amanda Olivier, se middelnaam en dit was nog altyd net vir my so mooi naam,” het Van Dyk gesê.

Vandat sy kan onthou, was sy nog altyd mal oor skoene. “Ek het as vyfjarige dogtertjie daardie plastiek skoene aangetrek en heeldag daarmee rondgeloop.”

Van Dyk het ook as kind gereeld haar ma se skoene aangetrek en dan sneusdoekies of toiletpapier in die skoene gedruk sodat dit vir haar sou pas.

“Die embleem vir my handsakke is ‘n sonneblom en ek het ook ‘n handsak met sonneblomme op gemaak. Toe ek dié handsak gemaak het, het ek na my ma verlang. Dié spesifieke handsakreeks se naam is ook Amanda Sunlight.”

Van Dyk maak die sole vir die skoene self en gebruik ‘n dikker soort rubber as waarvan baie skoene gemaak word.

“Omdat ek so lief is vir skoene wil ek hê die skoene wat ek maak, moet vir jare hou en nie begin kraak in die sole nie.”

Dit neem haar vyf dae om ‘n paar skoene te maak, tensy dit hakskoene is – dan neem dit langer – en sewe dae om ‘n handsak te maak.

Van Dyk het op Secunda en Evander groot geword en het ná skool eers by die baljukantoor op Evander gewerk.

Later het sy vir ander ondernemings op Secunda en Evander gewerk voordat sy ‘n permanente aanstelling by Sasol as beplanners-assistent gekry het.

Van Dyk het besluit om uiteindelik haar droom om skoene te maak na te jaag toe sy in Augustus 2023 ‘n pakket by Sasol gekry het.


LEES OOK: Learner accused of killing matriculant in eMbalenhle gets bail


Sy sukkel om verby ‘n mooi paar skoene te loop en hoëhakskoene is van haar gunsteling-skoene. Toe sy en Francois van Dyk in 2014 getrou het, het sy 144 pare skoene gehad.

Van Dyk sukkel met endometriose en het al sewe operasies ondergaan, maar dit bly terugkom. Dié toestand veroorsaak chroniese pyn en wanneer sy te veel pyn het, moet sy gaan lê. Sy het sedert sy ‘n tiener was met endometriose gesukkel, maar toe nog nie geweet wat dit was nie.

“Ek het net, vandat ek begin menstrueer het, verskriklike pyn gehad en my menstruele siklus het altyd baie lank aangehou. Ek het maar gedink dit is normaal en moet so wees.”

Van Dyk wil vir ander jong meisies sê dit is nie normaal om so aanhoudend te vloei nie of soveel pyn te hê nie en het hulle aangemoedig om ‘n dokter te gaan sien.

Sy het intussentyd, na vele afsprake by dokters en ginekoloeë by ‘n dieëtkundige uitgekom wat haar op ‘n spesiale eetplan gesit het. Sedert sy dié eetplan volg, is haar pyn minder en meer onder beheer.


LEES OOK: R2 000 fine awaits illegal dumpers in Govan Mbeki Municipality


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button