Bejaarde van Delmas met gebreekte heup van mediese behandeling weerhou
“Ek lê waar ek lê ek; ek kan nie beweeg nie en moet doeke dra.”
“Staan op en loop, gaan huis toe, daar is niks fout nie.”
Dit is die woorde wat ’n senior burger en inwoner van Herfsland Aftreeoord op Delmas moes aanhoor nadat hy op 22 Maart in sy woonstel geval het.
Henry Nice (66) het vertel dat hy die spesifieke aand geval het.
“Ek kon glad nie beweeg nie, my selfoon was op die bedkassie, ek moes vir ’n lang tyd skreeu om die hulp van die ander inwoners te bekom.”
Volgens die opsigter, Buks Hattingh, kon hulle nie toegang tot die woonstel kry nie, want Nice het sy sleutels binne-in die slot gelaat.
’n Versorger en omgee mede-lidmaat van die Volle Evangelie Kerk op Delmas, Doret Maritz, was gekontak asook die noodhulp span van AfriForum Delmas Valke Buurtwag.

“By my aankoms omstreeks 20:46 het oom Henry op die vloer in sy kamer gelê; hy was duidelik in baie pyn en kon glad nie sy regterbeen beweeg nie,” het ’n eerstehulplid gesê.
Nice is verder ook ’n fase vier-longkankerlyer en sy hande en voete is erg aangetas deur artritis – hy weeg ’n skamele 47kg.
“Ons het die oom sover as moontlik probeer gerusstel en gemaklik gehou, het suurstof toegedien en dadelik begin om ’n staatsambulans te kontak.”
Volgens die eerstehulpspan het van die lede self na die hospitaal gery om die verkryging van ’n staatsambulans te bespoedig.
Omstreeks 21:45 het die ambulans op die toneel aangekom om Nice na die Bernice Samuel Hosptiaal op Delmas te vervoer.
Maritz het hom vergesel.
Volgens Maritz was daar X-strale van Nice se heup geneem, ’n wagtydperk het gevolg waarna hy om 02:00 op 23 Maart deur verpleegpersoneel meegedeel is dat daar niks fout is nie en dat Nice moet opstaan en huis toe gaan.
LEES OOK: AfriForum Buurtwag in Delmas leer meer oor veediefstal
Nice was egter nie in staat om te loop nie. Hy was in baie pyn en het geen pyn behandeling gehad nie.
“Ek moes hom toe maar vanaf die bed tel, in ’n rolstoel kry, weer in my kar laai en na 20 minute se gesukkel kon ek oom Henry weer tot by sy woonstel by Herfsland kry,” het Maritz vertel.
Nice kon egter steeds nie beweeg nie, was in afgryslike pyn en kon nie die toilet gebruik nie, het homself benat en moes van doeke gebruik maak. Met Streeknuus se besoek aan Nice op 25 Maart was hy steeds ongemaklik en in baie pyn.
“Ek lê waar ek lê ek; ek kan nie beweeg nie en moet doeke dra,” het ’n bewoë Nice gesê.
Nice het vertel dat ’n vorige werkgewer hom tegemoet gekom het en reëlings getref het vir X-strale.
Die privaat X-strale wat op 24 Maart van Nice se heup en knie geneem was, het aangetoon dat sy heup gebreek is en dat die moontlikheid bestaan dat die potjie ook gebreek kon wees.

Streeknuus is in besit van ’n afskrif van die privaat radiologiese verslag. ’n Verwysing na die Steve Biko akademiese hospitaal het gevolg. Maritz het vir Nice in haar kar na die hospitaal vervoer en daar het die wagproses weer van vooraf begin.
Volgens Maritz moes hy in ’n rolstoel sit.
“Oom Henry was duidelik ongemaklik en seer.”
Op 25 Maart was Nice egter ook by Steve Biko weggewys omdat hy in Mpumalanga woon. Maritz het daarna vir Nice na die Witbank Hospitaal geneem.
Die Witbank Hospitaal het Nice meegedeel daar was geen beddens beskikbaar nie en dat hy na die Middelburg Hospitaal oorgeplaas sou word. Volgens Maritz het hy egter ’n bed in Witbank bekom en was hy in traksie geplaas.
Streeknuus het gepoog om kommentaar vanaf die Departement van Gesondheid in Mpumalanga te kry oor Nice se X-strale wat in die Bernice Samuel gewys het dat hy niks gebreek het nie, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoer ontvang nie.
Vir Nice, ’n pensionaris wat van sy Sassa inkomste afhanklik is, het daardie een aand se val en aanvanklike bevinding dat hy niks gebreek het nie, in ’n nagmerrie van vernedering, wegwysing en pyn verander.
“Oom Henry is steeds in die hospitaal en word volgens inligting sou vandag (1 April) vir sy gebreekte heup geopereer word,” het Maritz Streeknuus teen druktyd meegedeel.
LEES OOK: Smart meter rollout sparks service delivery concerns in Ward 20, eMbalenhle



