AfriForum Buurtwag in Delmas leer meer oor veediefstal
“Dit behels ’n uiteensetting van die wetgewing wat gebruik word om veediefstal te reguleer en die wetgewing wat die merk van diere onderskryf.”
Volgens die burgerlike organisasie, AfriForum, is veediefstal besig om groot skade in die landbou sektor aan te rig, veral in Mpumalanga.
Hennie Bekker, distrik koördineerder vir AfriForum in Mpumalanga sê daar word maandeliks miljoene rande se vee in die provinsie gesteel.
Misdadigers steel vee in groot getalle en die SAPD veediefstal eenhede kan glo nie genoegsame ondersoeke doen nie.
“Dit is hoofsaaklik weens ’n tekort aan hulpbronne en arbeidskrag,” het Bekker bygevoeg.
AfriForum het daarom op 17 Maart ’n nuwe opleiding module bekendgestel om veediefstal in Mpumalanga te help bekamp.
Dié opleiding was daarom ook vir lede van AfriForum Delmas Valke Buurtwag aangebied.
LEES OOK: eMbalenhle family left devastated after house fire
“AfriForum het die tekort in die SAPD veediefstal eenhede raakgesien en glo die oplossing lê by die bemagtiging van boere en buurtwagte met kennis om veediefstal te help bekamp.”
Volgens Bekker fokus die opleiding op praktiese stappe wat boere in samewerking met die SAPD kan toepas om ’n groter impak teen veediefstal te maak.
“Dit behels ’n uiteensetting van die wetgewing wat gebruik word om veediefstal te reguleer en die wetgewing wat die merk van diere onderskryf”.
Buurtwag lede en boere word verder ook geleer wat is wettige en onwettige praktyke in koop, verkoop, vervoer en die merk van diere.
LEES OOK: Louis neem leisels oor by Hoëveld Fotografieklub
“Ons het baie buurtwag lede in dorpe wat gereeld opmerk dat vee op sleepwaens aangery word. As hulle nie weet wat die regte en wettige praktyke is nie, kan hulle nie help om die misdadigers vas te trek nie” het Bekker gesê.
Verder gee die opleiding ook praktiese wenke vir boere of slagoffers van veediefstal om die toneel waar die veediefstal plaasgevind het so bes moontlik te bewaar sodat bewyse nie vernietig word nie.
“Dit is nie altyd moontlik vir veediefstal eenhede om spoedig by die tonele uit te kom nie en dit lei daartoe dat bewyse vernietig word deur die elemente waaraan dit blootgestel is”.
“Met praktiese wenke gaan ons die gemeenskap bemagtig sodat misdadigers twee keer moet dink voordat hulle weer vee steel,” het Bekker afgesluit.



