Polisie praat met Bethal VLU oor veiligheid
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 15 April by te woon.
Adjudant Offisier Riaan Smit van die Bethal Polisie, het die vroue van die VLU Bethal-tak op 18 Maart tydens dié tak se vergadering, toegespreek.
Smit het oor veiligheid gepraat en gesê die vroeë oggendure, tussen 02:00 en 04:00 is die tyd wat die meeste huis inbrake op Bethal plaasvind.
“Ons sien dit is drie wat saamwerk en skootrekenaars, televisies en selfone steel,” het Smit gesê.
Hy het die vroue gemaan om versigtig te wees wanneer hulle geld trek omdat die kloning van bankkaarte deesdae ’n groot probleem is.
“Hulle is baie vining as hulle die kaarte kloon,” het Smit gesê.
“As jy moet geld trek, kies ’n besige kitsbank waar daar baie mense of beweging is en as iemand jou wil help met jou kaart, sê nee dankie.
“Dit is belangrik om ’n beperking op die hoeveelheid geld wat daar daagliks uit jou bankrekening kan gaan, te plaas.
“Sodoende, as hulle jou kaart kloon, sal hulle minstens nie al jou geld kan ontrek nie.”
Smit het gesê nóg ’n groot probleem waarvan die polisie huidiglik baie klagtes kry, is inwoners wat ingedoen word deur advertensies wat op Facebook of ander sosiale media geplaas word.
“Mense sien ’n voertuig wat byvoorbeeld vir R20 000 geadverteer word en dink dan dit is ’n winskopie en betaal die geld oor en as hulle die kar gaan haal, kom hulle agter die plek wat die adverteerder gegee het, is ’n leë gebou of dit bestaan nie.
“Kontant is steeds koning. Betaal eerder kontant as jy die item wat jy koop kan sien in persoon.”

Hy het die vroue ook gewaarsku teen diewe wat maak of hulle vanaf ’n bank skakel of ’n SMS stuur wat sê dat daar verdagte transaksies op jou rekening was en dat hulle dit wil regstel.
“Sê vir hulle jy sal eerder self na jou bank toe gaan om dit reg te stel, want sodra jy jou inligting vir hulle gee, trek hulle al die geld uit jou bankrekening.”
Vir veiligheid by die huis, het Smit voorgestel dat mense veiligheidshekke by hul gang of kamer sit, sodat inbrekers nie so maklik toegang tot die kamers kan kry nie.
Hy het ook gesê alarmstelsels wat gekoppel is aan ’n sekuriteitsfirma, maak die huis veiliger. Die VLU Bethal-tak se volgende vergadering is op 15 April om 09:00 vir 09:30 by die NG Bethal-Oos-gemeente en belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel Lynette Posthumus by 072 203 6230.
LEES OOK: Laerskool Eloff kondig kwartaal twee hoofleiers aan
LEES OOK: Unite Nyaniso Ntulini with his family in eMbalenhle



