CrimeLocal newsNews

AfriForum wil veediefstal bekamp

Organisasie wil polisie help.

Een van AfriForum se nuutste projekte is om opleiding aan hul lede wat vir veiligheidstrukture in Mpumalanga verantwoordelik is, te gee.

Dié organisasie se plaas- en buurtwagte sal binnekort ’n beduidende rol kan speel in die geveg teen veediefstal wat huidiglik hoogty vier in Mpumalanga.

AfriForum gaan sy lede bemagtig om die polisie se veediefstaleenheid te help om veediefstal te bekamp. Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het gesê dié opleiding sal plaas- en buurtwagte in staat stel om veediefstal, veral gesteelde vee wat vervoer word, te identifiseer.

“Ons word oorval met klagtes van boere wat probleme met die polisie se veediefstaleenhede in Mpumalanga ondervind,” het Bekker gesê.

AfriForum het op 20 Januarie ’n brief aan die provinsiale bevelvoerder vir die Mpumalanga veediefstal eenheid gestuur om hierdie probleme onder sy aandag te bring. Volgens Bekker is’n tekort aan hulpbronne die oorsaak vir die swak optrede van Mpumalanga veediefstal eenhede.


LEES OOK: Men kill sheriff in apparent hit in Secunda


“Elke veediefstal eenheid bedien meer as een polisie wyk vanaf ’n enkele dorp en het dus groot gebiede waarna hulle moet omsien,” het Bekker gesê.

“Daar is nie genoeg lede om al die werk te kan doen nie én daar is ’n tekort aan voertuie. Boonop moet die lede ook hofsake bywoon wat die druk net vererger weens die personeel- en voertuigtekorte.

“Verder het die speurders nie die nodige toerusting om hul werk doeltreffend uit te voer nie. In slegs een van die veediefstal eenhede se wyke is daar meer as R6m vee in ’n jaar gesteel en slegs R2,5m vee is in dieselfde tydperk teruggevind.

“Dié randwaarde is net van toepassing op beeste, skape en bokke wat gesteel en teruggevind is en nie ander diere soos varke en perde nie.

“Die nuutste tegniek wat veediefstal sindikate gebruik, is om gesteelde vee na ander provinsies, veral Gauteng en KwaZulu-Natal, te vervoer en verkoop. Dié geld word in die onderwêreld ingeploeg en misdadigers begin hiermee al hoe meer gesofistikeerde maniere kry om vee te steel.


LEES OOK: Family wants answers after mother dies at traditional healer’s school in Kinross


“Voertuie word gekoop en sleepwaens word gehuur, soms ook met vervalste identiteitsdokumente. Aangesien sindikate gesteelde vee so ver vervoer, wil AfriForum juis help om veediefstal te pak.

“AfriForum se buurt- en plaaswagte sal opgelei word om verdagte voertuie en sleepwaens saam met die polisie te ondersoek, omdat gewone polisielede nie altyd alle prosedures ken rakende die vervoer van vee nie.”

Die AfriForum plaas- en buurtwagte sal onder meer leer waarvoor om uit te kyk en watter dokumentasie saam met die diere vervoer moet word.

Die merk en identifikasie van diere is ook ’n belangrike taak, dus sal die AfriForum veiligheidstrukture ook opgelei word om hierdie prosesse te verstaan.

“Ons gaan nie agteroorsit en toelaat dat die polisie se hande vasgebind word nie. “Daar is nog goeie polisielede wat hard werk om vee eienaars te help.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button