Inwoners knap begraafplase op
Flip het die pas afgelope week weer ingespring en begin om die oorgroeide seringbome te snoei.
Nóg inwoners het tot die stryd toegetree om ’n begraafplaas in Streeknuus se lesersgebied in stand te hou. Steeds gaan die gemeenskap van Delmas voort en doen moeite om die behoud en toeganklikheid van Delmas se begraafplaas te help verseker.
Streeknuus het op 14 Maart berig oor die Van der Merwe-gesin, pa Flip, ma Jane en seun Gerbrandt van Eloff, wat baie sweet, tyd en koste ingesit het om die begraafplaas te help opknap.
Dit nadat hulle hul oorlede seun, ook Flip, se graf wou besoek en met ’n skok agtergekom het in watter toestand en hoe ontoeganklik die begraafplaas is.
Flip van der Merwe het die pas afgelope week weer sy ‘vrywillige moue’ opgerol en die erg oorgroeide seringbome gesnoei.
Hulp vir hierdie enorme taak het vanaf Delmas Herleef asook Schoeman Boerdery gekom. Jane het Streeknuus intussen ingelig dat die begraafplaas ongelukkig steeds deur haweloses geteiken word.
“Hulle het nou na ander grafte naby aan die ingang van die ou gedeelte van die begraafplaas geskuif en steeds word daar op grafte geslaap en dié mense morg erg,” het Jane gesê.
In ’n poging om die erger wordende probleem te probeer bekamp, is daar ook nou ’n geen-deurgang bordjie by die begraafplaas se hoofingang opgesit.
“Baie dankie aan die Van der Merwes, Schoeman Boerdery en Delmas Herleef wat help om ons begraafplaas skoon te maak,” het Madel Fourie gesê.
“Saam maak ons ’n verskil in ons dorp.”Intussen het Kobus en Louwtjie Erasmus ook uit hul eie ingegryp om die gras by die Rayton begraafplaas gesny.
“Die weersomstandighede en uitermate hoë reënval van die afgelope tyd het dit byna onmoontlik gemaak vir die munisipale werkers om met die onderhoud van al die begraafplase in Streek 5 by te hou,” het Raadslid Johannes Bekker gesê.
Volgens Bekker word die gras by al die begraafplase in Streek 5 maandeliks deur munisipale werkers gesny.
“Die gras het bloot net vinniger gegroei as wat dit gesny kon word.”
In ’n tyd waar samewerking van onskatbare waarde is, maak die hulp van gemeenskapslede soos die Erasmus familie ’n tasbare verskil,” het Bekker bygevoeg.
“Die Erasmus familie se bydrae het nie net tot die netheid van die begraafplaas bygedra nie, maar ook tot die respek en waardigheid vir dié wat daar hul laaste rusplek gevind het.
“Die Rayton begraafplaas se netjiese voorkoms ná hul werk het nie net lof van inwoners ontlok nie, maar ook ’n gevoel van trots en samehorigheid in die gemeenskap gebring.
“Ek bedank die Erasmus familie vir hul onbaatsugtige diens en positiewe bydrae tot gemeenskapstrots. Hulle is ’n voorbeeld van wat dit beteken om betrokke te wees en om om te gee,” het Bekker afgesluit.
LEES OOK: New township handed over to LLM
LEES OOK: DA says no to GMM’s planned increase tariffs







