Gemeenskap op Sundra geskok na vandale grafte plunder
“Wat se genot kan enige iemand daaruit put om ’n graf te beskadig?”
Die gemeenskap van Sundra is in skok na die onlangse vandalsime by die begraafplaas op die dorp. Volgens die Diane Bath, DA raadslid by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit het die vandalsime rondom 10 Mei plaasgevind.
Die grafstene hoofsaaklik in blokke R en N is geskend. Die groot hartseer is dat ook die baba blok van grafstene hierdeur geraak word. Annette Smit, inwoner, is erg ontsteld oor die voorval.
“Albei my ouers is in die Sundra Begraafplaas te ruste gelê en so ook my tannie en oom. Al die grafstene van hierdie geliefdes van my is beskadig en omgeskop,” het Smit gesê.
Volgens Smit het sy kwotasies aangevra vir die herstel van die grafstene en wag nog om te hoor hoeveel dit gaan kos.
“Ek is geskok om te sien wat kriminele aan my ouers se rusplek gedoen het – dit is so hartseer.”

Volgens Derek Bester, die voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag, is dit onverstaanbaar.
“Watter genot kan enige iemand daaruit put om ’n graf te beskadig?”
Volgens Bester kan hy verstaan as pype of kabels gesteel word, maar met grafskending kan niks verkoop word nie. Dit gaan dus nie oor geld nie; dit is bloot vernielsugtigheid.
Bester het Streeknuus verder meegedeel dat daar op dieselfde aand by die Sundra Hoërskool skade aangerig is.
“Vensters is goedsmoeds uitgegooi en bloot ook net om skade aan te rig. Die groot probleem met ons begraafplase in Sundra en Delmas is sekuriteit. Dit bestaan nie meer nie, die begraafplase word deur dwelmgebruikers en haweloses beset.
“Ek het persoonlik al van die mense gaan verwyder wat vuur gemaak het in een van die geboue by die begraafplaas.”
Bester het voorts genoem dit word vermoed dat ’n jongklomp daarop uit is om skade te doen.
“Dit is onaanvaarbaar. Die skuldiges moet gevang word om vir hulle dade tot verantwoording geroep te word. Hierdie oneer aan families van oorledenes is nié aanvaarbaar nie.”
Bath het intussen die inwoners van Victor Khanye, wie se geliefdes daar begrawe is, gevra om die begraafplaas te besoek en seker te maak of dié grafte ook deur die vandale geplunder is.
“Ons wil ook beklemtoon hoe belangrik dit is om die waardigheid van oorledenes te respekteer.”
Bath het versoek om die begrafnis bespreking kantoor by 013 004 1300 te skakel vir verdere inligting.




