Vermeende motordief loop sy rieme op Delmas styf
“Dit was die vreemdste gevoel en een wat nie maklik beskryf kan word nie.”
Dit was die oggend van 14 Mei en ’n werknemer van ABSA in die Willow Brooke Square Winkelsentrum op Delmas, het ’n vinnige blaaskans geneem. Dit was omsreeks 10:40 toe Mandie Gross die bank vir etlike minute verlaat het.
“Skielik sien ek my wit Honda Ballade voor my verbyry – ek was redelik in skok en het nog so ewe agterna geloop om seker te maak dit is wel my kar deur na die registrasienommer te kyk,” het Gross vertel.
“Dit was die vreemdste gevoel en een wat nie maklik beskryf kan word nie.”
Hierna het dinge vining in aksie gekom. Volgens Gross het sy die bank ingestorm en alarm gemaak dat haar kar so pas gesteel is.
“Daar was toevallig ’n kliënt in die bank wat ’n lid van die Eloff Buurtwag is en hy het onmiddellik ’n boodskap uitgestuur.”
Dié boodskap het binne minute op veiligheidsgroepe versprei. Volgens Gross het sy gesien die voertuig het vermoedelik in die rigting van Botleng beweeg en sy en en ’n kollega het in daardie rigting gery, maar haar voertuig was skoonveld.

Intussen het Jaco Daubert van Crime Intervention na die N12 gehaas.
“Ons weet dat baie gesteelde voertuie na alle waarskynlikheid in die rigting van Etwatwa of Daveyton beweeg. Gross se voertuig het nie ’n satellietopsoring eenheid gehad nie en ek het geweet dat enkele minute van belang is,” het Daubert vertel.
“Ek het op die N12 by die Sundra oprit gewag en sowaar, die volgende oomblik kom die gesteelde wit Honda teen die spoed van lig by my verby.”
Die voertuig was een kilometer vanaf die Etwatwa oprit van die pad afgetrek en Daubert het die bestuurder in hegtenis geneem. In afwagting op die polisie het ’n ontstoke, maar baie verligte Gross op die toneel aangekom.
“Ek het gedink ek sien my kar nooit weer nie en het boonop ook nie versekering nie,” het Gross Streeknuus meegedeel.
Lede van die Daveyton Misdaadvoorkoming eenheid het op die toneel aangekom en die vermeende kardief in hegtenis geneem.
LEES OOK: Support is needed for the Kristopher Ryan Centre’s adults with disabilities
Volgens inligting het die vingerafdruk eenheid op Springs die verdagte se vingerafdrukke positief met Gross se voertuig verbind. Die verdagte is op 15 Mei aangekla van voertuig diefstal en sou na verwagting op 16 Mei in Springs in die landdroshof verskyn.
Volgens Gross sou sy op 16 Mei haar voertuig weer in besit kon neem en het net gewag vir die gesteelde status om verwyder te word. Gross het Daubert, die onderskeie buurtwagte en die polisie bedank vir hulle vinnige reaksie en bystand.
“Ek is dankbaar en bedank ook vir Jaco asook die Eloff- en Delmas Valke Buurtwagte vir hulle vinnige reaksie.
“Mense moet by hul buurtwagte aansluit; dit maak ’n groot verskil wanneer jy dit die nodigste het,” het Gross ook gesê.
“Hierdie sukses is weer’n bewys van die waarde van goeie samewerking en kommunikasie tussen buurtwagte, privaat sekuriteitsmaatskappye en die polisie,” het Carel Botha, die voorsitter van AfriForum Delmas Valke Buurtwag, gesê.
“Een kilometer verder en Mandie se voertuig sou waarskynlik weg gewees het. Dankie aan Jaco van Crime Intervention vir sy spoedige reaksie.”



