Bron van lewe al weer in die gedrang vir VKLM-inwoners
Inwoners van Delmas en omgewing behoort teen die tyd al gewoond te wees wees aan watertekorte, waterinperkings asook baie lang tye sonder water.
Krane het reeds begin opdroog in die Delmas-omgewing weens beplande instandhoudingswerk. Inwoners moet hul staal vir ’n hele paar waterlose dae.
Rand Water, die verskaffer van water aan VKLM, het in ’n mediaverklaring aangekondig dat daar noodsaaklike en beplande instandhouding aan verskeie van sy pompstasies gedoen gaan word.
Dié herstelwerk was vir vier dae vanaf 29 Mei tot 2 Junie geskeduleer, 107-ure in totaal.
“Hierdie instandhoudingswerk is deel van ons verbintenis om volhoubare en doeltreffende watervoorsiening te verseker,” het Rand Water verbruikers verder meegedeel.
Ook die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) sou geaffekteer word tydens die tyd dat daar geen water gepomp word nie.

Inwoners van Delmas en omgewing behoort teen die tyd al gewoond te wees wees aan watertekorte, waterinperkings en baie lang tye sonder water.
Met water as die bron van lewe wat gesondheid, voedsel, plantlewe en higiëne insluit, is dit egter nie te sê dat dit altyd net aanvaar word nie.
Streeknuus was teen 27 Mei ingelig dat inwoners van Droogefontein, Eloff en omliggende gebiedereeds sonder water of met baie swak waterdruk opgeskeep sit.
“Ons moet water opgaar vir die tyd wat ons sonder water gaan sit, so word ons vertel, maar hoe gemaak as jy byna ’n week voor die herstelwerk alreeds sonder water sit?” het ’n inwoner op ’n WhatsApp –groep gevra.
“Dit wat ons probeer opgaar, gebruik ons nou daagliks vir oorlewing. Ook op Eloff was die waterdruk reeds baie laag en kom daar slegs ’n dun straaltjie water by my krane uit,” het Joe van Breda laat hoor.
LEES OOK: Lekwa FPA warns against fire making as dry season approaches
Volgens Van Breda is die groot bekommernis die huise vir bejaardes ev die hospitaal in die omgewing.
Kosmos op Sundra het genadiglik ’n boorgat waarvan hulle gebruik maak, maar die Herfsland Aftreeoord op Delmas het slegs ’n 1000 liter tenk.
“Malita het ook met die hulp van weldoeners watertenks kon oprig, maar wat as daardie water klaar is?”
Die Jerigo Oord op Eloff het volgens Van Breda reeds ’n onderneming vanaf ’n bekende boerderygroep gekry dat hulle tenks vir die duurte van die watertekort gevul sal word.”
Rand Water het intussen ook aangekondig dat die werk sowat vier dae sou duur, maar dat inwoners daarop bedag moet wees dat dit tot twee weke kan neem voordat die waternetwerk sou stabiliseer.

Nog ’n bekommernis onder inwoners is die moontlikheid vir gebarste pype wanneer die waterdruk weer herstel word.
“Dit is winter, die grond en pype is koud en met daardie skielike druk van water, is gebarste pype, veral op die Modderbee-lyn byna ’n gegewe,” het Van Breda ook gesê.
Rolien Potgieter, diensleweringaktivis op Delmas, het inwoners vooraf gemaan om water op te gaar en voorsiening te maak vir die tyd van geen water wat voorlê vir die gemeenskap.
“As daar inwoners is wat boorgate het, help mekaar asseblief.”
VKLM het intussen aangedui dat hulle water sou voorsien vir solank as wat daar water beskikbaar is.
Teen druktyd was daar dus groot kommer by VKLM-inwoners oor wat die beplande instandhouding van Rand Water vir die inwoners se dag-tot-dag beplanning sou inhou, maar net die tyd sou leer.
LEES OOK: Drug operation worth millions uncovered in Standerton: Here is what happened



