Famsa bevorder gesonde gesinne met veldtog wat op Secunda afskop
Ouers moet goed kan kommunikeer al is hulle geskei.

Die Famsa Hoëveldrif-tak op Secunda het op 15 Mei Familiedag gevier en ’n bewusmakingsveldtog oor dié dag van stapel gestuur.
Elmarie du Toit, ’n gesinsmediator vir die afgelope nege jaar, meen die rede waarom gesinne deesdae so maklik verbrokkel, is omdat mense se ego’s eerste kom.
“Elkeen fokus op sy eie belange en seer, en dit raak dan ’n bose kringloop waaraan te laat aandag gegee word. Mense is later so vuisvoos dat hulle nie betyds hulp soek nie, of nie meer kans sien om die hele ‘tas’ uit te pak nie,” het Du Toit gesê.
Sy het opgemerk dat in herorganiseerde gesinne – wat geskeide gesinne insluit – die ouers dikwels sukkel om saam te werk tot voordeel van hul kinders.
“Ons praat hier van mede-ouerskap, en dit is gewoonlik ook waar ego ’n probleem word. Elke ouer wil sy of haar eie ding doen, sonder inmenging van die ander ouer, en die kinders moet maar inval daarby.
“Elkeen se onopgeloste seer dryf ook dié mede-ouerskapverhouding, en die fokus is nie op wat die kinders nodig het nie.
“Elke ouer wil vanuit sy of haar eie oogpunt werk met wat hulle dink die beste is vir hul kinders, ongeag of hulle in die proses skade berokken aan die verhouding tussen die kinders en die ander ouer.
“Die kinders moet die aanpassing maak en word soms selfs vir terapie geneem, maar die ouers is nie bereid om buite dié raamwerk met mekaar te kommunikeer of aan hulself te werk nie.”
Du Toit probeer om ’n verskil te maak in gesinsverhoudings waar seer is, en haar werk as gesinsmediator bied vir haar die geleentheid om dit te doen.
“Mediasie fokus op wat in die beste belang van die kind is. Ons werk ook in die proses daaraan om die ouers aan beter kommunikasie patrone bloot te stel, want vir so lank as wat kinders hul ouers nodig het, moet ouers met mekaar oor die kinders kan kommunikeer.”
Du Toit se raad aan gesinne wat probleme ervaar, is om vroegtydig hulp te soek, veral as daar uitdagings in die gesin is wat die ouers nie meer alleen kan hanteer nie.
“Soek hulp voordat dit te ver gaan en die partye nie meer kans sien om die verhouding te herstel nie.”
Du Toit meen dit is belangrik dat die gemeenskap Familiedag in Suid-Afrika vier om sodoende gesonde en funksionele gesinne – die hoeksteen en fondasie van elke persoon – te bevorder.
“Gesonde gesinne leer ons hoe om met mekaar te kommunikeer, op ’n gesonde manier te verskil, en verhoudings te bou en te herstel, sodat ons dit weer kan toepas in verhoudings buite ons gesinslewe.”
LEES OOK: Deon Grimsell wen Veterane Gholfdag op Standerton
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality probes R20m security contract irregularities



