Local newsNewsStreeknuus

Hanri Ehlers van Delmas hou kykers voor kassie vasgenael

“Ek het daaroor gedink en na al die trauma van die afgelope paar jaar wou ek aan myself bewys dat ek weer sterk is en ek was lus vir ’n lekker uitdaging.”

Delmas spog met ’n deelnemer in die tweede seisoen van kykNET se spannende reeks, Die Brug, wat op 8 Mei afgeskop het.

Hanri Ehlers (39), ’n boervrou en in Delmas bekend as die president van die rolbalklub, is deel van dié gewilde reeks.

“Ek en my pa, Johan Ehlers, het die eerste seisoen van Die Brug gekyk en dit verskriklik geniet. Oor die algemeen is ek ’n bok vir sports en ek is maar van nature ’n kompetisiediertjie.

“Toe die advertensie op televisie kom dat die inskrywings oop is vir die tweede seisoen het my pa my aangemoedig om in te skryf.

“Ek het daaroor gedink, en ná al die trauma van die afgelope paar jaar, wou ek aan myself bewys dat ek weer sterk is. Ek was ook lus vir ’n lekker uitdaging.”


Hanri Ehlers terug op die plaas, voltyds op suurstof en in die herstelproses na Covid-19.

Ehlers is ’n plaaskind in murg en been – gebore op Delmas en grootgeword op die plaas waar sy tans woon. Sy het haar voetspore in Heidi Kleuterskool sowel as Laerskool Delmas gelos, waarna sy aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gematrikuleer het.

Daarna het sy haar LLB, cum laude, aan die Universiteit van Pretoria verwerf, gevolg deur nagraadse studies aan die Universiteit van Stellenbosch.

Daar het sy as navorsingsassistent en lektor by die Fakulteit Regsgeleerdheid gewerk waarna sy as advokaat gepraktiseer het.

Volgens Ehlers het sy hier paaie gekruis met individue in die wildsbewaringsbedryf en het sy betrokke geraak by die stigting van ’n nie-winsgewende wildsbewaring organisasie wat meerendeels werk in Botswana gedoen het.

“Baie deure het vir my oopgegaan en ek is in 2011 gekies as een van die Mail & Guardian se Top 200 Young South Africans. In 2012 was ek een van 12 Global Shapers, ’n inisiatief van die Wêreld Eknonomiese Forum, oor die hele Afrika wat die jonger geslag en Suid-Afrika by die Wêreld Ekonomiese Forum in Etiopië verteenwoordig het.”


LEES OOK: Kinross resident publishes online memoir of her life journey


Botswana het gewink met baie geleenthede buiten wildsbewaring waar sy as advokaat gepraktiseer het.

“Ek het myself in Ghanzi in Botswana gevestig, maar daar was nie goeie koffie nie. Ek het toe maar besluit om ’n meesterbarista-kursus te gaan doen en om ’n koffiewinkel oop te maak op die dorp.”

Kort daarna het Covid-19 egter sy kop uitgesteek en volgens Ehlers het dit haar met baie uitdagings in haar nuwe besigheid gelaat.

Aan die einde van Oktober het haar restaurant en praktyk boonop weens ’n elektriese fout afgebrand. Ehlers en die eienaar het besluit om die gebou te restoureer, maar kort voor oopmaaktyd in Junie 2021 het Ehlers positief vir Covid-19 getoets.

“Ek kon dit nie verstaan nie; hoe kry ek Covid in die middel van die Kalahari?”


A woman is walking on the beach with a bag.
Delmas inwoner Hanri Ehlers is tans te sien in Die Brug. Foto: kykNET

Ehlers was aanvanklik in die Ghanzi Primêre Hospitaal, die enigste hospital met toegang tot suurstof, opgeneem.

“Jy moes by die hospital inboek met jou eie ketel, emmer en beddegoed en daar was geen warm water nie. Met my selfoon se battery pap was ek van die wêreld afgesny.

“Vandaar is ek Gaborone toe waar ek met ‘Covid Pneumonia’ gediagnoseer was.”

Sy het ’n bietjie meer as ’n maand daar deurgebring; baie siek en sonder ’n foon.

“Met tye het ek nie eers geweet of iemand weet waar ek is nie. Ek het 10% longkapasiteit oorgehad en my kanse op oorlewing was bitter skraal.”

Ehlers het vertel dat haar familie meegedeel was dat sy dit nie gaan maak nie.

“Ek wou ook nie meer daar wees nie en was reg om te vertrek. Maar toe hoor ek ’n stem – hard en duidelik – dat my werk is nog nie klaar nie.”

’n Harde pad tussen lewe en dood het gevolg, maar ten einde laaste kon familie daarin slaag om Ehlers na die Pretoria-Oos Hospital oorgeplaas te kry.

“Ek kon steeds niemand sien nie, maar was nader aan die huis en net om Afrikaans te kon hoor en alles te kon verstaan, het reeds ’n groot verskil gemaak.”

Ná drie maande in die intesiewe eenheid was Ehlers na hoësorg oorgeplaas.

“Ek kon nie eens regop sit in die bed nie en moes van voor af leer loop. Dit was verskriklik vir my as ’n onafhanklike, selfstandige mens om heeltemal van ander mense afhanklik te wees.

“Ek was op doeke omdat ek aan masjiene gekoppel en baie swak was. Na my uiteindelike ontslag was ek nog vir 147 dae op stuurstof en dit het baie lank geneem om te herstel.

“My pa het geweier dat ek ’n rolstoel gebruik en tree vir tree, letterlik, het ek weer begin loop. Ná my lang herstelproses van Covid-19 het ek besef daar is geen ander plek soos jou eie land en jou eie mense nie.

“Ek was toe reeds 10 jaar in die buiteland. Dit was tyd om terug te kom.”

Ehlers het haar restaurant verkoop en aan die einde van Maart 2023 na Delmas teruggekeer. Die Brug het fisiese uitdagings ingehou. Die weer was ook nie altyd gunstig nie, die kos was maar min, en sy moes ’n spasie met vreemdelinge deel.

“Jy is deel van ’n span, maar weet nooit regtig waar jy met iemand staan nie. Jy wil wen, maar jy weet jy kan nie die brug alleen bou nie.”

Volgens Ehlers was dit ’n onvergeetlike ervaring en sal sy dit in ’n oogwink weer doen.

“Ek het geleer dat ek ‘okay’ is na al my trauma en dat ek weer onafhanklik en sterk kan wees.”

Die Brug 2-uitdaging was tussen Oktober en November 2024 by Die Tuinroete Dam in George opgeneem.

“Die produksiespan het hulself oortref om ure se video- en klankopnames só te verwerk dat almal se storie mooi vertel word en dat die spanning letterlik verdubbel.”

Op nog ’n vraag aan Ehlers oor hoe sy dit geheim gehou het, het sy geantwoord: “Om ’n geheim te hou is een van my beste eienskappe. Ja dit was soms moeilik om te verduidelik waarheen jy gegaan het en hoekom. Ek het toe maar net gesê ek gaan Botswana toe.”

Om enige aanduiding van Ehlers te kry oor wat in die volgende episodes van Die Brug gebeur, was haas onmoontlik.

Intussen sit Delmas se inwoners, soos die res van die land, Donderdagaande om 20:00 op DStv, kykNET, kanaal 144 vasgenael om te sien hoe dit met Ehlers in Die Brug gaan.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button