Streekvoorsitter Sally Ferreira van Bronkies: VLU help vroue hul beste self ontdek
Dié streek bestaan uit vier takke in Pretoria, twee in Bronkhorstspruit, een in Bapsfontein en een in Kleinfontein wat sowat ’n jaar gelede gestig is.
Die VLU (Vroue Landbou Unie) help vroue om die beste weergawes van hulself te ontdek. So verduidelik Sally Ferreira die doel van dié organisasie en hoe die VLU ook haar lewe verryk het.
Ferreira (70) is onlangs as die voorsitter van VLU Pretoriastreek herverkies. Dié streek bestaan uit vier takke in Pretoria, twee in Bronkhorstspruit, een in Bapsfontein en een in Kleinfontein wat sowat ’n jaar gelede gestig is.
Volgens haar het die VLU die moderne vrou omhels en is die dae van die opgetofte “koeksistertannies” lankal iets van die verlede.
“Almal het ’n plek – of jy nou ’n boervrou, tuisteskepper, afgetrede onderwyser, werkende vrou of sakevrou is.”
Ferreira se reis met die VLU het 35 jaar gelede op Middelburg begin toe ’n vriendin haar na ’n takvergadering saamgenooi het.
“Ek het ongelooflike vroue leer ken, vriende gemaak, my kennis verbreed en nuwe vaardighede geleer – van hoe om reg naaldwerk te doen en selfs skoene oor te trek tot hoe om produkte in te lê,” het Ferreira vertel.
Dié Ierse nooi het op Carolina as die oudste dogter tussen sewe kinders in die Frayne-gesin grootgeword en het in Belfast, die naaste Engels-medium skool, matriek geskryf.
“Ek het ná skool vir ’n sieldodende wyle in ’n bank gewerk voordat ek by Onderstepoort in hul laboratoriums begin werk het,” het Ferreira vertel.
Juis vanweë haar Engelse agtergrond is sy ’n pos as tegniese veearts-assistent vir ’n Britse veearts, wat in Suid-Afrika aan ’n entstof gewerk het, aangebied.
Dié dinamiese vrou het die kans aangegryp en ook haar studies as mediese tegnoloog voltooi. Dit was tydens haar tyd by Onderstepoort waar sy haar man, Martin, as kollega ontmoet het. Hulle is later getroud en twee seuns, Ettiene en Louis is uit die huwelik gebore.
Die Ferreiras het na Middelburg verhuis toe Martin sy eie onderneming begin het. Hulle het jare later op Bronkhorstspruit beland vir besigheid redes en omdat Sally nader aan haar kinders in Pretoria wou wees.
“Ek het vir Martin gevra om vir ons ’n plekkie in Bronkies te kry, maar toe ek my oë uitvee, het hy ’n baie groot huis gekoop wat ons toe in ’n gastehuis omskep het,” het sy vertel.
Die skuif na Bronkhorstspruit was nie maklik nie.
“Ek het my vriende gemis en ek was eensaam. Eendag toe ek weer so kop onderstebo in die winkel geloop het, het ek besef dat ek ’n plan moet maak,” het sy vertel.
Sy het by die Van Riebeeck-tak van die VLU ingeskakel en sy was lank lid daar. Sy is nou lid van Kroonblaartak, ‘n aandtak wat haar tans beter pas.
“Die samesyn is presies wat ek nodig gehad het. Hier het ek weer begin groei,” het sy vertel.
Ferreira beskryf haarself as ’n “pliggie” – iemand wat graag opdragte uitvoer, die reëls volg en leiding neem en daarom geniet sy die struktuur van die VLU.
“Ek lei beslis nie alleen nie. Ons is ’n span. Ek sal nie sonder my streekbestuur kan regkom nie.”

Sy waag dit wel om soms van die reëls af te wyk wanneer sy haar hand aan wol slaan.
“Soms werk dit goed, maar ander kere verloor ek punte in kompetisies omdat ek nie die reëls gevolg het nie. Ek glo maar dis my eie vorm van ’n kreatiewe benadering.
“Ek het ’n besonderse liefde vir brei danksy ’n Creative Knittters-slypskool wat ek jare gelede bygewoon het. Ek het daar geleer om hierdie medium uit ’n heel ander lig te sien.”
Ferreira se brei- en hekelwerk het haar al verskeie pryse ingepalm. Haar mees onlangse kongresitem wat die koppe laat draai het, was ’n Ierse hekelstuk.
“Kompetisies is belangrik want dit moedig vroue aan om te verbeter en hulself uit te daag. Hulle kan binne die streek en ook op provinsiaal en nasionale vlak deelneem.
LEES OOK: Children play in dumped waste as danger grows in Ext 8, Standerton
“Die lede is gereeld verbaas oor wat hulle vermag het. Die lede word aan ’n verskeidenheid dinge blootgestel – van skryfwerk en skilder tot koek bak en naaldwerk. Hier kan jy talente ontdek wat jy nooit geweet het in jou is nie. Boonop kan jy dit waarvan jy die meeste hou, verder verbeter.”
Deel van haar amp-verpligtinge is om gereeld takbesoeke te doen en ook om ander streke se konferensies en die provinsiale kongres te woon.
Overvaal Provinsie se kongres word in Augustus op Meulstroom aangebied en die SAVLU nasionale kongres vind weer oor 2 jaar in Mpumalanga plaas.
Sy sien uit na hierdie kongres want Overvaal VLU vier vanjaar hul 30ste verjaardag saam met TVLU se 100ste bestaansjaar.
Sy nooi vroue in die omgewing om by hul naaste VLU-tak aan te sluit. Stuur gerus ’n epos na vlupretoriastreek.bestuur@gmail.com.



