Laerskool Sundra se rugby-manne speel weer in liga
“Die rugby-kultuur is besig om met ’n ywerige en bekwame span afrigters, groot vlam te vat.”
Daar was vir 14 jaar droogte in liga-geledere by Laerskool Sundra, maar vanjaar kondig die skool met trots aan dat hul spelers weer aan die Valke B2-liga deelneem.
Laerskool Sundra kompeteer teen Laerskool Pam Brink, Farrarmere Primary, Laerskool Bredell, Laerskool Môrewag, Balmoral Kollege, sowel as buurskool Laerskool Eloff.
Die skool se o9- en o10-spanne het boonop deurgedring na die Valke se halfeindstryd wat op 17 en 18 Junie by Hoërskool Die Anker beslis gaan word.
LEES OOK: Sasol Rugby Club’s victory ensures semi-finals are played in Secunda
Volgens die waarnemende hoof, Jaques de Beer, is daar die afgelope drie jaar hard agter die skerms gewerk om rugby weer op peil te kry.
“Laerskool Sundra beplan ook ’n toer volgende jaar om hul rugbykultuur verder uit te bou en vir die nuwe liga-seisoen voor te berei,” het De Beer gesê.
“Ons rugbykultuur is besig om behoorlik vlam te vat, danksy ’n ywerige en bekwame span afrigters. Een van ons afrigters is tans steeds deel van die Blou Bulle se o.20-groep. Ek is baie trots op elkeen van ons spelers en afrigters.”








