Local newsNews

Span maak gedenksteen op Vrede uit 1901 reg

Toe die groep by die grafterrein aankom, was dit in ’n verwaarloosde toestand.

Op ’n mistige oggend het Rudi Rousseau en sy span op Vrede aangekom om die grafsteen van Nicolaas Venter en sy vrou, Margaretha Johanna, skoon te maak.

Volgens Rousseau, ’n restoureerder van grafstene, is hierdie grafsteen ’n erfenisgebied wat talle geheime uit die geskiedenis van Afrikaners verklap.

Toe die groep by die grafterrein aankom, was dit in ’n verwaarloosde toestand. Rousseau sê die reuse-gedenksteen was bykans onsigbaar weens doringbosse en onkruid.

Die span is op die verval van die grafsteen attent gemaak deur Charlene Wentzel, die agterkleindogter van die oorledenes.

Volgens Rousseau het sy hom gekontak nadat sy dokumentasie ontdek het van vorige restourasiewerk wat hy gedoen het.


Two men are working on a fence in the field.
Rudi Rousseau en sy span maak die monument op Vrede skoon.

Lede van die plaaslike gemeenskap het vinnig ingespring om met die opruimingswerk te help. Die grafsteen, wat reeds 125 jaar oud is, het sowat twee uur se ononderbroke werk geverg om heeltemal skoon te maak.

“Ons moes versigtig werk om die takke se harde dorings te vermy. Die projek het goeie spanwerk geverg,” het Rousseau gesê.

Nicolaas Venter het in 1901 tydens die Tweede Vryheidsoorlog teen Brittanje geveg. Hy is doodgeskiet in ’n geveg met generaal-majoor E.L. Elliot se magte op Plaas Slangrivier, noord-oos van Vrede.

Hy is vanaf die slagveld na sy plaas gedra en op Plaas Bethanie, sowat ’n kilometer buite Vrede, te ruste gelê. Volgens Rousseau was Nicolaas se vrou, Margaretha, die kleindogter van die Voortrekkerleier Sarel Cilliers.

Na Nicolaas se dood het sy en hul kinders steeds op die familieplaas gebly.

“Op ’n dag het Margaretha ’n waarskuwing ontvang dat die Britte op pad is, en sy het met al vyf haar kinders, insluitend ’n baba van vier maande oud, na ’n koppie gevlug waar ’n grot hulle sou skuil,” het Rousseau vertel.

Margaretha is egter verraai en deur Britse soldate gevang. Sy en haar kinders is oorval en moes meer as 70 km te voet aflê na die Standertonse konsentrasiekamp — in die yskoue winter van 1901.

Margaretha is drie weke na hul aankoms aan longontsteking oorlede. Haar baba, Clasina Margaretha Venter, is drie dae later oorlede.

“Die ander vier kinders is as weeskinders agtergelaat in die kamp, maar gelukkig het ander gevangenes hulle versorg,” het Rousseau verduidelik.

Margaretha is aanvanklik in Standerton begrawe, maar haar oorskot is later deur haar jongste seun, Johannes Christiaan Venter, herwin en langs haar man op Plaas Bethanie herbegrawe.

Johannes het ook die gedenksteen vir sy ouers laat oprig en het later op sy eie plaas, Deelpan, bome geplant as ’n lewende monument vir sy ouers.


Die monument voor werke begin het.

Volgens Rousseau kan mens vandag nog, as jy laatmiddag in oostelike rigting van Vrede kyk, die letters M en NV (vir Margaretha en Nicolaas Venter) in die verte sien uitmerk.

Die monument strek oor 60m. Die murasies van die oorspronklike plaashuis staan glo steeds.

“Dit is hartverskeurend om te dink aan hoeveel keer die kinders daar gehuil het oor hul ouers wat hulle op só ’n jong ouderdom verloor het. As jy om die murasies stap, kan jy die gehuil van die bloekombome hoor — dit dra by tot die tragiese atmosfeer,” het Rousseau afgesluit.

Rousseau reis landwyd om gedenkstene, begraafplase en historiese grond op te ruim en seker te maak dat hierdie stories behoue bly.

Lesers wat bewus is van ander geskiedkundige terreine wat in verval is, kan Rudi Rousseau kontak by 082 536 1917 of ’n e-pos stuur na rudirousseau7@gmail.com.



LEES OOK: Drug addiction has impact into Standerton community

LEES OOK: Delmas Supa Quick is onder nuwe bestuur – gereed om top diens te lewer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button