Lank verwagte Nooitgedacht-pad vorder fluks
Dié projek het verder ook tans 37 inwoners en ses kleinsake-ondernemings vanuit die direkte gemeenskap in diens.
As belangrike infrastruktuurprojek word die Nooitgedacht-grondpad tussen Cullinan en Bronkhorstspruit uiteindelik geteer. Die vordering is duidelik sigbaar met die eerste kilometer reeds voltooi met twee basislae en die eerste teerlaag wat suksesvol aangebring is.
Volgens die DA-raadslid vir Tshwane Wyk 100, Johannes Bekker, sal die toeganklikheid en vervoervermoë binne die streek met die teer van dié pad aansienlik verbeter word.
“Inwoners begin reeds die positiewe verandering opmerk, met verbeterde toegang en aktiwiteit op die terrein wat hoop bring,” het Bekker gesê.
Volgens Bekker word daar van plaaslike materiaal gebruik gemaak en is kwaliteitsbeheer sentraal tot die pad se ontwerp en volhoubaarheid.
Om tot die professionele gehalte van die Nooitgedacht-pad by te dra, is daar ’n moderne, goed toegeruste laboratorium op die padkamp-terrein opgerig en word elke laag van die pad deeglik getoets om te verseker dat dit aan alle tegniese standaarde en spesifikasies voldoen.

Dié projek het verder ook tans 37 inwoners en ses kleinsake-ondernemings vanuit die direkte gemeenskap in diens.
“Dit weerspieël ’n sterk verbintenis tot plaaslike ekonomiese bemagtiging en inklusiewe ontwikkeling,” het Bekker bygevoeg.
Volgens Bekker is hy baie tevrede met die pad se vordering.
“Abnormale hoë reënval en ongunstige weer het wel die projek effens vertraag, maar ’n inhaalplan is formeel ingedien vir goedkeuring.
LEES OOK: eMbalenhle Chris Hani section RDP housing project turns into a nightmare for residents
“Hierdie plan het ten doel om die projek terug op optimale spoed te bring sonder om gehalte of werkverpligtinge in te boet.”
“Ek woon maandelikse vorderingsvergaderings by en doen ook gereeld terreininspeksies. Ons werk nou saam met die kontrakteur en moniteringspanne om te verseker dat tydlyne, standaarde en gemeenskapsverwagtinge nagekom word.”
Bekker het verder beklemtoon dat deursigtigheid en konstante kommunikasie van kardinale belang bly.
“Ek sal aanhou om toe te sien dat inwoners ingelig bly en dat hierdie ontwikkeling verantwoordbaar bly teenoor die mense vir wie dit bedoel is.”
“Die werk hier gaan nie net oor ’n pad nie; dit gaan oor die bou van geleenthede en vertroue in plaaslike dienslewering,” het Bekker afgesluit.



