Drie kry lewenslange tronkstraf vir Leandra-plaasvaanvalle
AfriForum verwelkom hofbeslissing.
AfriForum verwelkom die vonisse wat die Evander Landroshof op 17 Julie aan drie plaasaanvallers opgelê het. Dié drie het in 2022 ’n 60-jarige vrou en haar huishulp op die plaas Rolspruit, naby Leandra, aangeval en beroof.
Die aanvallers is gevonnis tot lewenslange tronkstraf en ’n bykomende 71 jaar tronkstraf.
AfriForum het dié vonnisoplegging beskryf as ’n kritieke bevestiging dat die aanvalle in Suid-Afrika se landbou- en landelike gemeenskappe nie meer geduld sal word nie.
Thubelihle Ndwandwe, Siyabonga Ndwandwe en Muzikayfani Ndwandwe is op 20 Junie skuldig bevind aan 17 aanklagtes teen hulle wat verband hou met dié wreedaardige aanval, insluitend roof en aanranding.

Die aanvallers, wat onderskeidelik 31, 31 en 45 jaar oud is, het vroegoggend op 7 September 2022 op die plaas toegeslaan deur voor te gee dat hulle veekopers is.
Hulle het egter die 60-jarige man oorval, aangerand en verskeie kere met ’n mes gesteek.
Die boervrou en huishulp is daarna aangehou terwyl die aanvallers verskeie persoonlike items en kontant gebuit het. Danksy die flinke optrede van die polisie en plaaslike boere is die drie aanvallers later dieselfde dag nog aangekeer.
AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, het tydens die vonnisoplegging ter strafverswaring getuig en gewys op die geweldige aard en rampspoedige gevolge van plaasaanvalle.

“Dié aanvalle word gekenmerk deur uiterste wreedheid en vrees. Slagoffers word getraumatiseerd agtergelaat, gemeenskappe word gedestabiliseer, en vertroue in die gereg word geknak.
“Dit is van kritieke belang dat die hof vonnisse oplê wat die erns van hierdie misdaad weerspieël en vandag is dit gedoen,” het Broodryk gesê.
In sy getuienis het Broodryk onder meer ook die langtermyn-impak van plaasaanvalle op slagoffers en die landbousektor beklemtoon.
AfriForum se eie navorsing, wat uit die organisasie se gemeenskapsveiligheidsdatabasis onderneem is, wys dat plaasaanvalle ernstige emosionele, ekonomiese en maatskaplike gevolge het, en onder meer kan lei tot belemmerde voedselproduksie, trauma vir inwoners in landelike gebiede en ’n hoë voorkoms van vrees.

“Boere leef en werk in afgeleë gebiede, en dit laat hulle kwesbaar. Wanneer hulle geraak word deur plaasaanvalle, hou dit ook ’n direkte gevaar in vir die land se voedselsekerheid en die lewensonderhoud van die landelike gemeenskap.”
AfriForum het weer benadruk dat geregtigheid in dié gevalle op ’n duidelike wyse moet geskied om verdere aanvalle te voorkom, veral omdat inhegtenisnames en skuldigbevindings in landelike misdaad dikwels baie laag is.
AfriForum se navorsing toon dat daar in slegs sowat 20% van plaasmoorde wat tussen 2019 en 2022 in Mpumalanga gepleeg is, inhegtenisnames was, terwyl daar in dié tyd geen skuldigbevindings aangeteken is nie.
“Die regstelsel moet ’n duidelike boodskap stuur dat die teiken van boere ernstige gevolge inhou. Dié vonnisoplegging stel daardie presedent,” het Broodryk afgesluit.





