Cullinan se Onverwacht-inwoners bederf met bekende se besoek
“Die besoekers was diep geraak deur die warmte en wysheid van die inwoners van Onverwacht.”
In die gees van Nelson Mandela se nalatenskap het die inwoners van Onverwacht op 17 en 18 Julie ’n verrassingsbesoek ontvang van die befaamde aktrise Sundra Prinsloo en die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans (SBA).
Die SBA, wat die Afrikaanse taal regoor Suid-Afrika bevorder, het twee dae saam met die gemeenskap spandeer om meer te leer oor hul geskiedenis, tradisies en unieke kultuur.
Sundra Prinsloo het, saam met wyk 100 raadslid Johannes Bekker, Mandela-dag gevier deur hul 67 minute te wy aan die mense van Onverwacht. Bekker het vertel dat dit ’n besondere ervaring was wat die rykdom van plaaslike kultuur en veerkragtigheid uitgelig het.
“Ons het gekies om eerder net te luister as om te praat. Elke persoon daar dra ’n wonderlike storie van hoop en deursettingsvermoë,” het hy gesê.
As simboliese gebaar is boeke aan elke inwoner oorhandig om die waarde van kennis en drome te beklemtoon.

“Die boeke is met trots oorhandig as ’n uitnodiging aan elke persoon om te glo in wie en wat hulle kan word,” het Bekker bygevoeg.
Volgens Bekker was die besoekers diep geraak deur die warmte, wysheid en gasvryheid van die inwoners.
“Madiba het geglo in die krag van onderwys en die waardigheid van elke mens. Vandag het ons daardie visie in aksie beleef.”
Die besoek het afgesluit met ’n gevoel van verbondenheid en nuwe hoop – ’n treffende huldeblyk aan die nalatenskap van ’n leier wat geglo het in ’n beter toekoms vir almal.
“Die geleentheid was ’n betekenisvolle reis deur Onverwacht se geskiedenis en kultuur en het verhale na vore gebring wat dikwels ongesiens bly,” het Bekker afgesluit.





