Local newsMunicipalNewsStreeknuus

Verkoop van erwe op Eloff laat inwoners rooi om die kraag

Dit is alom bekend dat Eloff- en Sundra se inwoners gebuk gaan onder water tekorte en dat hulle reeds op ’n beurtwater sisteem opereer.

Inwoners van Eloff is erg ontstoke nadat ’n openbare kennisgewing deur die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) op 5 Augustus uitgereik is.

Hierin word die voorneme van VKLM om in terme van seksie 21 van die plaaslike regering, munisipale wet (wet 32 van 2000) samelopend met seksies 14, 79 en 90 van plaaslike regering se finansiële bestuurwet (wet 56 van 2003), erf 676 in die Rawstraat-omgewing deur ’n tenderproses te verkoop, op skrif gestel.

Volgens die kennisgewing sal die grond in sowat 56 erwe verdeel word, met pryse wat tussen R75 000 en R554 000 wissel. VKLM verklaar dat die erwe nie meer vir munisipale gebruik benodig word nie.

Die grond sal vir bekostigbare behuising beskikbaar gestel word, met die doel om informele nedersettings te formaliseer deur erwe formeel te verkoop.

Daarvolgens hoop hulle om ekonomiese aktiwiteit en beleggings binne VKLM aan te moedig, asook ’n inkomste vir die munisipaliteit te genereer.

Die Victor Khanye Plaaslike Munisiplaiteit beplan om sowat 65 erwe in Eloff te verkoop.

Die groot vraag onder inwoners is of die erwe oor dienste beskik en hoe nuwe inwoners van water voorsien sal word. Eloff en Sundra se inwoners leef reeds onder watertekorte en is op ’n beurtwaterstelsel aangewese.

Die erwe wat verkoop gaan word, is aan die suidekant van Eloff geleë – die deel van die dorp waar inwoners die skaarste aan watervoorsiening daagliks eerstehands beleef.

Een ontstoke inwoner het gesê dat dit waarskynlik net nóg ’n Mimosa- of Savannah-plakkerskamp sal word, met gratis water en portatoilette.
Volgens gemeenskapsaktivis Joe van Breda sal die verkoop van die erwe ’n enorme negatiewe impak op die gemeenskap hê.

“Daar is reeds druk weens die watertekorte, en die moontlikheid bestaan dat die waarde van bestaande eiendom verder kan daal,” het hy gesê.

“Dit sal alle inwoners van Eloff raak.”

Die publiek en ander belanghebbendes het tot 3 September kans om geskrewe kommentaar oor die beplande ontwikkeling en verkoop van die erwe in te dien.


LEES OOK: Bethal’s Praise obtains silver in the Eskom Expo for Young Scientists Regional competition


“VKLM moet teen Desember vanjaar sowat R23 miljoen aan Rand Water betaal – is dit moontlik die rede vir die skielike verkoop van erwe onder die dekmantel van bekostigbare behuising?” het Van Breda gevra.

Kort voor druktyd het Van Breda aan Streeknuus bevestig dat ’n formele petisievorm teen die voorgestelde verkoop van erwe op gedeelte 676 in

Eloff opgestel is, sodat inwoners hul besware kan indien. Hy meen die ontwikkeling van die erwe moet gestaak word totdat die knellende watertekorte in Eloff opgelos is.

Die rioolstelsel moet ook eers op standaard gebring word en behoorlike omgewings- en sosio-ekonomiese impakstudies moet gedoen word.

Inwoners wat die verkoop van die erwe wil teenstaan, kan vir Van Breda skakel by 072 103 2411.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button