Local newsNewsStreeknuus

Delmas senior inwoners sit met die hande in die hare na bangmaakstories

“Ons wil betyds probeer veg en opstaan teen die verkoop van Malita.”

Waar daar ’n rokie trek, brand daar gewoonlik ’n vuurtjie. Só meen Johan du Plessis oor die gerugte dat die aftreeoorde in Delmas, Malita en Herfsland, verkoop gaan word.

Dié inwoner van Malita het daarom op 14 Augustus ’n inligtingsessie in die saal van die Malita Aftreeoord gereël.

Die stories wat in die hegte Delmas-gemeenskap loop, beweer dat die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) dit sterk oorweeg om die twee aftreeoorde te verkoop.

’n Brief waarin dit bevestig word, is in Streeknuus se besit. Hierin bevestig die munisipale bestuurder, Thabo Mashabela, dat die moontlikheid wel oorweeg word.

“Die twee aftreeoorde is ’n finansiële las op die munisipaliteit en die huur is heeltemal te laag en nie markverwant nie,” word as die redes in die skrywe aangedui.

Volgens inwoners se kontrakte word die eenhede binne die aftreeoorde as gesubsidieerde behuising beskryf.

By navraag het Streeknuus verder bevestig dat die moontlikheid reeds op 17 April tydens die VKLM-strategiebeplanningsvergadering in Boksburg bespreek is.

Die inligting is glo met die twee opsigters van die aftreeoorde gedeel, maar daar is besluit om dit voorlopig stil te hou om paniek onder die inwoners te voorkom.

Meer inwoners van Malita het egter van die gerugte te hore gekom en dit het Du Plessis genoop om die inligtingsessie vir die inwoners te hou.

Du Plessis het die nuus aan die inwoners bekend gemaak en die meeste se reaksie was: “Wat nou, waar gaan ons heen?” Hy het die inwoners egter gepaai deur te sê dat nog niks bevestig is nie.


An older woman sitting in a chair with a smile on her face.
’n Gemoedelike Ina du Plessis dui aan dat sy haar nie aan bangmaakstories dat Malita aftreeoord verkoop gaan word, steur nie. Foto: Thia Botha

“Dit is alles nog net in die pyplyn. Malita is nog nie verkoop nie.

As enige inwoner oor meer inligting beskik, praat met ons daaroor. Ons doen dit vir die inwoners van Malita en Herfsland – ons wil betyds probeer veg en opstaan teen die verkoop van Malita,” het du Plessis gesê.

Inwoners was ook ontstoke omdat die opsigter, Chris Botes, reeds vir etlike maande van die moontlikheid bewus is.

“Dit is waar, ja. Ek weet reeds lank, maar ek wou nie van die ding ’n politieke speelbal maak nie. Die storie loop al vir twee tot drie jaar. Die munisipaliteit kan nie eens diens lewer nie, so ek wou julle as inwoners nie onnodig ontstel nie,” het Botes gesê.

Botes glo ’n verandering in eienaar sal min uitwerking op die inwoners hê en dat die huur waarskynlik steeds dieselfde sal bly indien die munisipaliteit wel besluit om te verkoop.


LEES OOK: Springs SAPS warns against fake social media posts about police vehicles


Verskeie geestelike leiers van Delmas het ook die sessie bygewoon. Dr Martin Janse van Rensburg het inwoners meegedeel dat dit ’n baie emosionele kwessie is.

Volgens hom is dit egter nog net ’n proses in oorweging, maar die dokument ontken ook nie die moontlikheid dat albei aftreeoorde verkoop kan word nie.

Hy het verder gesê die tehuise sal waarskynlik nie net oornag verkoop kan word nie, omdat bepaalde wetgewing gevolg moet word alvorens dit kan plaasvind.

“Beskuldigings moet nie nou heen-en-weer geslinger word nie. Dié inligtingsessie is egter ’n goeie begin.

“Ons as predikante van Delmas wat hier teenwoordig is, dui op ons omgee en dat ons dit nie net hier gaan los nie. Ons gaan saam hieraan werk en daaroor bid.”


An older man with a beard and a blue jacket.
Johan du Plessis, Malita Aftreeoord-inwoner, bring nuus aan die inwoners. Foto: Thia Botha

Die voorsitter van AfriForum Delmas-tak, Carel Botha, het by Janse van Rensburg aangesluit dat die verkoop nog nie ’n feit is nie, maar dat daar pro-aktiewe planne beraam moet word as dit wel ’n werklikheid word.

“Daar is vele instansies wat agter die inwoners van Herfsland en Malita staan. Wees verseker van ons ondersteuning ten alle tye.”

Ná die inligtingsessie was die gemoedere onder die bejaardes verdeeld. Sommige inwoners by Malita vrees dat hulle geen heenkome gaan hê as hulle moet uittrek nie, terwyl ander meen die gerugte is net bangmaakstories.

Streeknuus is intussen vertroulik meegedeel dat daar gerugte die rondte doen oor die moontlikheid dat die aftreeoorde aan ’n plaaslike mynkonsortium verkoop gaan word.

“Dit sal dan verblyf verskaf aan kontrakteurs en werkers van die steeds groeiende mynbedrywighede rondom Delmas,” het die bron gesê.

Streeknuus kon egter geen verdere inligting bekom om dié bewering te bevestig nie. Navraag by VKLM se munisipale bestuurder oor die verkoop van die twee aftreeoorde was teen druktyd steeds onbeantwoord.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button