Gholferspelers vat hande vir kinderhuis op Delmas
Verskeie vierbal-spanne het die baan in kleur getooi en die dag was gekenmerk deur ’n vrolike gees van omgee.
Delmas Gholfklub het op 15 Augustus ’n gholfdag ten bate van die plaaslike Olive Branch Kinderhuis gehou. Net voor die aanvang van die dag se spel het Elna Schoeman, voorsitter van die kinderhuis se komitee, die woord gevoer.
“Ek bedank elkeen wat deel is van die dag se gholf – die dag gaan nie net oor stokke swaai nie, maar oor die kinders,” het Schoeman gesê.
“Deur die kinderhuis te ondersteun, bied ons aan elkeen van die kinders ’n beter toekoms. Olive Branch se kinders het dalk met ’n slegte hou begin, maar elkeen het ’n kans om goed te eindig.”
Verskeie vierbalspanne het die baan in kleur gevul en die dag is gekenmerk deur ’n vrolike gees van omgee.
Die jong inwoners van die kinderhuis het die voorreg gehad om die dag saam met die gholfers te geniet, en elke gholfkarretjie is deur een of meer kinders vergesel.
Uitslae:
Eerste plek: Percy Human, Marco de Souza, Johan du Plessis en Hannes van der Walt
Tweede plek: Kobus Oberholzer, Nic Els en Jacques van der Merwe
Derde plek: Elna Schoeman, Melissa Venter, Franelyn Rossouw en Dilien Kruger (vroue-vierbalspan)
Dilien Kruger het boonop die prys vir die langste dryf gewen.
Schoeman het die borge en individue wat tot die sukses van die dag bygedra het, bedank.












