Standerton se boere word gemoer
Franco Kasselman vertel van sy ervaring op realiteitsprogram.
Mark Cockcroft en Franco Kasselman het op 20 September na Pretoria gereis om aan Moer ’n Boer deel te neem en hoewel albei dié boere hul gevegte verloor het, het hulle uit die kryt geklim met nuwe ondervinding.
Volgens Kasselman was dit opwindend om op te werk na die groot dag.
“Jy is bang en skrikkerig aan die begin, maar hoe meer jy oefen en jouself druk hoe meer gemaklik raak jy met die sport self,” het Kasselman gesê.
Deur hierdie ervaring het Kasselman homself gevind en geleer waar sy beperkings en kragte lê. Hy beveel aan dat mense wat hulself wil opbou in terme van dissipline, selfbeeld en krag, by ’n MMA gimnasium aansluit.
Die manne het op die groot dag ook lewenslange vriende gemaak. Kasselman beskryf dat al die boere wat deelgeneem het lekker saam kon kuier.

“Dit is nie net ’n geveg nie, dit is ’n samekoms vir boere om mekaar te leer ken,” het Kasselman gesê.
Hy beskryf die druk waaronder jy is wanneer jy voor 5 000 mense in die hok klim as senutergend. Hoewel die skare mal gaan, hoor mens niks anders as die hek wat toesluit.
“Jy voel net adrenalien wanneer die geveg begin, jy voel geen houe nie, jy druk net deur,” het Kasselman gesê.
Kasselman het gesê dat geen hoeveelheid oefening jou werklik kan voorberei vir die oomblik wat die houe begin neerstort nie.
Hoewel Kasselman nie deurgedring het in die kompetisie nie, is dit ’n ervaring wat hy enige dag sal wil herleef.
“Die brandewyn wat ons na die tyd gedrink het was die lekkerste wat ek al ooit gehad het,” het Kasselman gesê.
LEES OOK: Business league season rolls in on Standerton’s bowling greens
LEES OOK: Animal welfare inspector from Secunda issues warning: owners of roaming dogs are liable for attacks



