Local newsLocal sportNews

Posduif-foendie van Trichardt wil weer die spies opneem

Frik Stander (70) mik weer om aan atletiek deel te neem so tussendeur die duifwedfvlugte.

Frik Stander (68) se wedvlugduiwe het vanjaar uitstekend presteer en die pryse ingeryg. Stander is ’n lid van die Odra Posduifklub in Secunda en het al van kindsbeen af belangstelling in wedvlugduiwe gehad. Sy pa, Dawid Stander, en sy twee broers het ook met wedvlugduiwe geteel.

Stander bly sedert 1998 in Secunda en het as bestuurder oor veiligheid by Sasol Mynbou gewerk. Hy is vanjaar as klubkampioen by die Odra-klub aangewys, want sy duiwe het die jong voëls-afdeling, die ope-afdeling en die algehele afdeling gewen.

Hy het ook sy duiwe by die South African Invitation Pigeon Race ingeskryf en weer eens die pryse ingeryg. Sy duiwe het eerste, tweede, derde, vyfde en negende plekke behaal en kontantpryse gewen. Van die belangrikste dinge waarna Stander kyk wanneer hy nuwe duiwe koop, is goeie genetika en vlerkspoed.


Frik Stander het as 10-jarige seun begin deelneem met wedvlugduiwe. Foto: Verskaf.

“Nie alle duiwe is goed vir wedvlugte nie,” het hy vertel. Sommige van sy duiwe het al die eerste plek in ’n wedvlug met ses sekondes gemis omdat hulle nie dadelik in die hok waar hulle tyd geneem word, wil ingaan nie.

Wanneer Stander nie in die duiwehokke besig is nie, rig hy atletiek af. Hy het op 17 begin om aan atletiek deel te neem en het vinnig gevorder na provinsiale byeenkomste vir spiesgooi en later na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap.

Na skool het hy steeds in die senior-afdeling spies gegooi en presteer. Sy atletiekloopbaan het hom al na Mauritius, Italië en drie keer na Australië geneem, na Sydney, Brisbane en Melbourne.


LEES OOK: Court postpones murder case against young man from eMbalenhle


Hy het op 30 vir die laaste keer in die senior-afdeling deelgeneem en toe in die meestersatletiekafdeling begin. Hier het hy steeds uitstaande presteer. Op die ouderdom van 54 het hy as silwermedaljewenner in Australië by die Wêreld Atletiekkampioenskap weggestap.

Hy het ook aan vyfkamp deelgeneem, wat spiesgooi, gewigstoot, skyfwerp, 200m en 1 500m insluit, en hou saam met drie ander atlete die Afrika-kampioen-titel vir aflos. Stander het aan sy laaste atletiekbyeenkoms deelgeneem toe hy 54 was en moes toe ophou weens ’n skoueroperasie.

Hy is egter nie iemand wat stil kan sit nie en wil teen die tyd wat hy 70 word, weer aan spiesgooi deelneem. Hy berei tans hiervoor voor en oefen daagliks in die gimnasium om sy skouer sterker te maak.


Frik Stander met een van sy kampioen-duiwe. Foto: Jana Oosthuizen.

Stander het in 1980, terwyl hy self aan atletiek deelgeneem het, ook begin afrig. Die atlete wat hy afrig, is op Potchefstroom, Vrede en selfs in Australië. Hy rig verskeie atlete wat ver woon deur video-oproepe te maak sodat hy presies kan sien hoe hul tegniek lyk terwyl hulle spiesgooi en daaraan kan werk.

Sy atlete het vanjaar goed gevaar by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap in Pietermaritzburg en twee goue, twee silwer en twee bronsmedaljes huistoe gebring. Sommige van sy atlete het ook al hul Springbokkleure behaal.

Sy seun, Franco, volg in sy pa se voetspore en rig ook atletiek af, en sy kleinkinders van vyf en sewe jaar sal dalk eendag ook in atletiek belangstel. Sy vrou, Annerie, ondersteun hom met sy atletiek en duiwe en het ook ’n paar keer saam oorsee getoer vir die atletiekbyeenkomste.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button