Local newsNews

Bekroonde digter en liedjieskrywer van Bethal gee haar woorde vlerke

Francis Grobler gesels met joernalis Jana Oosthuizen oor haar digkuns, toekenings en haar liefde vir die plaas.

Op ’n plaas tussen Bethal en Middelburg, is waar die digter en liedjieskrywer, Francis Grobler (55), se gedagtes vlerke kry en waar sy kreatief kan raak.

Die plaas was nog altyd die plek waar sy tuis voel. Sy het op die plaas Joubertsvlei naby Standerton grootgeword. Sy was ’n rabbedoe en het as kind eerder saam met haar pa geboer as om pop te speel of meisie-dinge te doen.

Grobler wou na skool kuns en drama gaan studeer, maar haar pa het gesê dit lyk te donker en haar aangeraai om eerder onderwys te studeer.

Grobler het ná haar studies eers by ’n kleuterskool op Bethal skoolgehou en later haar eie kleuterskool op Koornfonteinmyn oopgemaak. Sy het ook vir ’n paar jaar as opvoedkundige kinesioloog haar eie praktyk vanaf haar huis bedryf. Sy was vir lank ook by die gesin se familieboerdery betrokke.

Grobler het haar skryftalent ontdek etlike jare na haar oudste broer, Dirk Steyn, se dood. Hy is in 1994 naby hul familie-plaas tussen Bethal en Standerton doodgeskiet en Grobler het toe haar verlies en ander grifsels op papier begin neerpen.

“Ek het ’n gedig oor die kliphuis op ons familieplaas geskryf en my pa se reaksie daarop was die vonk wat my ink losgeskroef het,” het Grobler vertel.


woman on a balcony overlooking a farm
Francis Grobler geniet die plaaslewe en dis hiér waar sy vlerke kan gee aan haar woorde in die vorm van gedigte en liedjies. Foto: Jana Oosthuizen.

Haar liefde vir skryf kom waarskynlik van haar pa af wat altyd liedjies gesing het vanuit rympies wat hy self opgemaak het.

Grobler het in 2007 haar eerste digbundel, Pyltjies in die Sand, vrygestel. Hiérna het Duskant Anderkant in 2010 en Wie Ore het in 2011 gevolg. Sy het ook ’n boek oor Suid-Afrikaanse helde en legendes geskryf en van haar gedigte verskyn in My Gebed vir ’n Boer. Haar nuutste digbundels, Aard, ‘s’Thwathwa’ en Nagblind is onderskeidelik in 2016, 2019 en 2020 vrygestel.

Van haar gedigte is ook in die bundels, Vier Seisoene, Dissekteer die Reënboog en Die Tiende Provinsie, gepubliseer.

Grobler het begin liedjies skryf nadat sy die sanger, Wynand Strydom op die radio hoor sing het en net daar besluit het dit is die stem wat haar gedigte moet sing.

Sedertdien skryf Grobler gereeld liedjies vir sangers wat Dozi, Jo Black, Stiaan Reynierse, Rudi Kleingeld, Albert Frost en Rhona van Niekerk onder meer insluit.

Een van die treffers wat Grobler geskryf het, is Dozi en Nadine se liedjie, “Toe die Engel aan die Water Raak”, wat in 2024 vrygestel is. Sy help ook met die skryf van teaterproduksies en skryf soms artikels vir die aanlyntydskrif, Naskrif.


LEES OOK: Unemployed youth challenge Govan Mbeki Municipality at Speaker’s engagement


Grobler skryf ook dikwels persverklarings vir kunstenaars en doen vryskut-onderhoude met skrywers tydens boekbekendstellings. Sy was teksskrywer en aanbieder van die kunsprogram, DEKATv op SABC2 en haar eerste onderhoud met die akteur, Neil Sandilands, het vir Grobler natuurlik gekom omdat sy nog altyd in drama belanggestel het.

Sy het in 2024, in samewerking met Nico Schamrel van NS Skrywershuis, ’n filmvers-produksie, Sonstorie, vir die Cordis Trust geskryf. Sy is lief vir musiek en kan ook kitaarspeel.

“As ek geweet het ek gaan eendag liedjies skryf, sou ek in my jonger dae meer aandag daaraan gegee het om te leer om instrumente te speel.”

Sedert Grobler haarself voltyds as vryskut-skrywer gevestig het, het die pryse en toekennings ingestroom. Sy is in 2019 aangewys as die algehele wenner van die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans (GHA) se digkompetisie en die NP Van Wyk Louw-prys is aan haar toegeken. Die digbundel ְStemme uit die Suiderland XIV bevat 10 van Grobler se gedigte.

Sy is in 2024 vereer met die gesogte Orde van die Beiteltjie deur die Afrikaanse Woordkunsakademie van Cordis Trust. Sy is ook vanjaar as die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou Unie se skrywer vir 2026 gekies.

In haar vrye tyd, geniet Grobler dit om tyd te bestee met enige iets wat hulself as kuns by haar aanmeld, onder andere om te skilder of kreatief te wees. Verder gaan stap sy graag op die plaas of bring tyd deur saam met haar man, Johan, kinders en kleinseun.

“As hy kom kuier staan die hele wêreld stil, alles anders kan dan maar wag.”


A woman in a chair with her legs and arms in the air.
Francis Grobler, bekroonde digter en liedjieskrywer, se liefde om kreatief te wees kom sedert haar kinderdae. Foto: Ashley Teixeira

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button