Menslike beendere op plaas buite Delmas gevind
Twee gaatjies wat moonlik skietwonde kan wees, is in die skedel opgemerk.
Die polisie op Delmas stel ondersoek in ná menslike oorskot op die plaas Hekpoort in die Delmas-omgewing gevind is.
’n Persoon wat hout op die plaas bymekaar gemaak het, het op ’n skedel met twee gaatjies daarin, beendere wat met kabelbinders gebind is en geskeurde klere afgekom.
Die polisie is omstreeks 18:00 op Donderdag, 28 Julie na die toneel ontbied.
Hulle het bevestig dat die oorskot wel dié van menslike oorsprong is.

Twee gaatjies wat moontlik skietwonde kan wees, is in die skedel opgemerk.
Die polisiebeamptes van Delmas het ook twee swart kabelbinders aan die beendere gevind.
“Die oorledene kon dus vasgebind gewees het,” het brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder vir Mpumalanga gesê.
’n Geskeurde swart baadjie en broek is ook op die toneel gevind.
“Die moontlikheid dat die persoon vermoor is en die klag na moord kan verander, word nie uitgesluit nie,” het Mohlala verder gesê.
Teen druktyd het Streeknuus met kapt. Carla Harley, mediawoordvoerder van die Delmas Polisie, bevestig dat die persoon se identiteit nog nie vasgestel is nie.
Die geslag van die persoon kon ook nog nie bevestig word nie.

“Daar het wel al verskeie mense geskakel wie se familielede en kennisse vermis word.
“Leidrade word opgevolg, maar die persoon kon nog nie positief uitgeken word nie.”
Hartley het ook die publiek gemaan om nie voortydig afleidings te maak en sosiale media met oningeligte stellings te besaai nie.
Die polisie het intussen ’n dringende beroep gedoen op enige iemand wat oor inligting beskik, om die Stop Misdaad nommer by 08600 1011 te skakel.
Die publiek kan ook inligting via die MySAPSapp stuur en volgens Mohlala sal alle inligting, indien so verkies, vertroulik hanteer word.




