Polisie gryp gekaapte bakkie op die N12 digby Delmas
Die voertuig is op die N12, digby die R42 Bronkhortspruit / Delmas-afrit voorgekeer.
’n Donkergrys Ford Raptor-bakkie wat glo in Midrand gekaap is, is teruggevind.
Lede van die Alberton Blitspatrollie het op Sondag, 24 Julie, inligting rondom ’n gekaapte voertuig ontvang.
Dié voertuig het volgens ’n satellietopsoringseenheid op die R59 in die Alberton-omgewing beweeg.
Die opsporingseenheid het die blitspatrollie-lede na die N3 en daarna na die N12-hoofweg, rigting Witbank, gelei.
Die voertuig is op die N12, digby die R42 Bronkhortspruit/Delmas-afrit voorgekeer.
By nadere ondersoek het die polisie vasgestel dat die voertuig se lisensieskyfie en registrasie vervals is.
Die 56-jarige Stephanus Jacobus Ras is vir die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig in hegtenis geneem.
Ras is by die Delmas Polisie aangehou en het op Dinsdag, 26 Julie in die Delmas Streekhof verskyn waarna sy aansoek om borgtog uitgestel is.
Teen druktyd sou Ras weer op Dinsdag, 2 Augustus in die Delmas Streekhof verskyn waar hy om borg sou aansoek doen.



